“Ek hou daarvan om DXAS (FEBA Filippyne) te ondersteun,” sê ’n luisteraar onlangs. “Veral vir mense van my stam … want DXAS se programme maak ‘n verskil in mense se lewens. Hulle hou jou op hoogte van wat in Zamboanga aangaan.”

FEBA Filippyne het vanjaar sy 76ste herdenking gevier en getuienisse soos dié getuig van die blywende trefkrag wat hulle het. Bob Bowman, een van FEBA se stigters, het die organisasie se benadering as volg opgesom: “[FEBA] wil naby aan die luisteraar kom.”

Vandag streef FEBA Filippyne steeds daarna om getrou te bly aan hierdie visie.

In elke geval

In 1 Korintiërs 9:22 skryf Paulus: “Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.” Dieselfde is in FEBA Filippyne se geval van toepassing op die kanale en platforms wat hulle gebruik om mense te bereik.

Daar is 180 mensegroepe in die Filippyne, elkeen met sy eie taal of dialek. Om in so ’n uiters diverse land te evangeliseer, vereis uiteraard ’n spesiale benadering. Dit is waarin FEBA uitblink, volgens voormalige nasionale direkteur en huidige raadslid van FEBA Filippyne, Dan Cura: “Ons laat hulle eie mense na hulle toe uitreik…Omdat hulle van daardie provinsie kom, weet hulle presies wat om te sê en hoe om dit só te sê dat hulle die boodskap van Jesus Christus by die luisteraars kan tuisbring.”

FEBA Filippyne se bediening bestaan uit twee dele. Eerstens bedryf hulle twee kortgolfstasies in Iba en Bocaue, vanwaar FEBA na sowat 3 miljard mense in meer as 40 tale uitsaai. Tweedens is daar die dinamiese plaaslike bediening: 13 radiostasies wat ongeveer 30 mensegroepe in hul eie tale bereik; Youtube- en Facebook-kanale; en verskeie toeps wat spesiaal ontwikkel is. Dit sluit in een om FEBA Filippyne se radioprogramme te stroom, een om jong volwassenes te bereik, en een vir Filippyners wat oorsee werk.

FEBA Filippyne gryp ook elke geleentheid aan om mense op ander maniere as net deur uitsendings te bereik. Papuri, ’n projek wat in die laat 1970s begin het om eg-Filippynse Christenmusiek te skep, is nou ’n groot jaarlikse musiekfees. Die tifoonseisoen het ook gelei tot die stigting van die Ramp Reaksie Radio-inisiatief, waar spanne draagbare tasradio’s gebruik om binne 72 uur noodradiostasies  in rampgeteisterde gebiede op te stel.

Inisiatiewe soos dié, sê Dan Cura, “wek baie vinnig ’n verhouding wat ons mense in hul eie tale laat verstaan dat ons vir hulle omgee en dat die Here vir hulle omgee, want daar is mense wat die Here liefhet en wat na hulle toe wil uitreik.”

Tweede lewe

Joshua Badol, ‘n konstruksiewerker in Cagayan de Oro, Mindanao, het FEBA Filippyne se The New J – die enigste Christelike stasie in daardie streek – in 2018 ontdek. Hy was ’n pastoor se seun wat vir 12 aaklige jare weggedwaal het van die Here af: hy het dwelms begin gebruik, sy meisie het hom na ’n agt-jaar-lange verhouding vir ’n ander man gelos en swanger geraak, en Joshua is in depressie gedompel.

“Dit het al erger geraak totdat ek alle hoop verloor het,” vertel hy. “Dis toe dat ek probeer selfdood pleeg het…Ek het ‘n geweer teen my kop gedruk en die sneller getrek, maar die skoot het nie afgegaan nie. God het ’n ander plan gehad…Hy het my die kans op ’n tweede lewe gegee.”

Ná hierdie wonderwerk het Joshua The New J ontdek. “Ek het elke dag na hul programme en liedjies geluister, en bietjie vir bietjie het my geestelike lewe in die Here herleef.” Vandag is hy gelukkig getroud en dien in sy kerk se aanbiddingspan saam met sy vrou.

“Ek sal aanhou bid dat FEBA se stasies nog groter reikwydte sal kry,” sê Joshua. “Dat hul programme meer mense na die Here toe sal lei. Dat selfs afgeleë plekke deur die programme bereik sal word.”

Amen

Tags :
Share This :