“Naas God se Woord verdien musiek die hoogste lof,” skryf Martin Luther. “Die gawe van taal is tesame met die gawe van sang aan die mens gegee sodat hy God se Woord deur musiek sou verkondig.”

Van Genesis tot Openbaring vorm musiek ’n onlosmaaklike deel van die verhouding tussen God en die mensdom. Of dit nou lofprysing of weeklag is, vind ons diepste emosies dikwels die beste uiting in sang, en dié liedere het die vermoë om tot ander te spreek op ’n wyse wat blote woorde nie kan nie.

’n Koreaanse luisteraar skryf aan FEBA Korea: “Ek het vir jare van God af weggedwaal. Terwyl ek onlangs die radio in my nuwe kar ingestel het, het ek aanbiddingsmusiek op julle stasie gehoor wat my hart aangeraak het. Jul uitsendings het my aangespoor om kerk by te woon. Ek het weer vreugde in Christus gevind.” Dit is waarskynlik waarom Henry Wadsworth Longfellow musiek die “universele taal van die mensdom” genoem het.

Bring mense bymekaar

Drie van FEBA Mosambiek se radiostasies het onlangs met buite-uitsendings begin. Hulle ry deur stede en dorpies in ’n voertuig wat toegerus is met ’n mobiele ateljee en gesels met mense op straat in regstreekse uitsendings. Die beste manier om mense nader te lok, het hulle gevind, is met musiek.

Kompetisies is ’n anderse en prettige benadering waarop mense byeengebring kan word. FEBA Indonesië het besluit om vanjaar hul land se 79ste jaar van onafhanklikheid met die “Sing for Nation 2024”-kompetisie te vier, waar tieners reg oor die land uitgenooi is om hul talente ten toon te stel deur geestelike liedere te sing.

Geestelike liedere is ’n kragtige voertuig vir die Goeie Nuus. Hulle spreek tot alle ouderdomme en alle omstandighede. In die 1950s is FEBA se uitsendings na die Sowjet-Unie gereeld geblokkeer, totdat ’n Russiese luisteraar vir die span gesê het: “Die Kommuniste besef nie dat die beste evangelistiese propaganda in die kerk se liedere is nie. Hou aan om die musiek uit te saai. Hulle blokkeer dit glad nie.”

Hoe kosbaar moes dit nie vir gelowiges in geslote lande gewees het om hierdie boodskappe van hoop en bemoediging in hul eie tale te hoor nie!

Persoonlike aanbidding

Dit is ’n voorreg om geestelike liedere in jou hartstaal te hê. Toe FEBA vanaf die Filippyne begin uitsaai het, het hulle geestelike liedere in Engels, of uit Engels vertaal, gebruik. Teen die 1970s het die span egter besef dat daar ’n behoefte aan oorspronklike Filippynse aanbiddingsliedere is. Die projek wat hulle begin het om hierdie liedere te skep, het gegroei tot die reuse jaarlikse Papuri!-musiekfees, waar duisende byeenkom om God in hulle plaaslike tale te prys en aanbid.

FEBA in Mongolië en Thailand het albei in 2023 hul eerste liedjieskryfkompetisies gehou. In albei dié lande beskou baie mense steeds die Christendom as ‘n “uitheemse” godsdiens, en die gebruik van Westerse liedere bevorder slegs dié idee. “Ons glo regtig dat die aanbiddingsliedere vanuit die harte van Mongoolse gelowiges sal moet kom,” het Batjargal Tuvshintsengel, FEBA Mongolië se direkteur, ná die aankondiging van die kompetisie gesê. Hy en sy span het bewus geraak van ’n behoefte aan geestelike liedere wat nie slegs Mongoolse lirieke het nie, maar ook uit ’n Mongoolse konteks gebore is en in ’n Mongoolse styl uitgedruk word. FEBA Mongolië het meer as 100 inskrywings ontvang, waaruit hulle hul gunstelinge gekies het om op te neem en aan plaaslike kerke beskikbaar te stel.

Direkteur Tuvshintsengel se reaksie weerspieël dié van menige FEBA-luisteraar die wêreld oor: “Ek kan nie vir julle sê hoe pragtig dit is om hierdie aanbiddingsliedere in my eie taal te hoor nie!”

Tags :
Share This :