Geloof is heel dikwels ‘n uiters vae, abstrakte konsep vir mense en word kronies verkeerd verstaan deur beide gelowiges en ongelowiges. Dit sou ons baie gehelp het as ons ‘n abstrakte konsep soos geloof soos ‘n Lego-voorwerp kon opbreek in sy verskillende boublokke. Maar die vraag is, kan ons? Ek glo ons kan. Na my mening is die eerste ooglopende komponent van geloof:
Kennis
Ons moet uiteraard iets glo; daar moet ‘n onderliggende narratief of verhaal wees waarop ons geloof gebaseer word. Daarom het elke godsdiens ‘n teks of tradisie wat hierdie funksie vervul, en vir Christene is dit die Bybel. Paulus beskryf sy samevatting van ons onontbeerlike geloofsfeite baie kragtig in 1 Kor. 15:3-8 (Afr83) –
“Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.”
Historiese feite
Maar om billik te wees moet ons geloofskennis gebaseer wees op historiese objektiewe waarheid. Paulus beklemtoon die kritiese belangrikheid hiervan verder in 1 Kor. 15:14-18 (Afr83) –
“…as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het …en as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore.”
Volgens Paulus was die enigste egte geloof ‘n historiese geloof gebaseer op algemeen kontroleerbare feite soos die meer as 500 mense, waarvan die meerderheid wat nog gelewe het by die skrywe van sy brief, kon getuig. Geloof sonder hierdie objektiewe, historiese basis is bygeloof – bloot ‘n idee, ‘n filosofie of ‘n hipotese. Maar geloof het nog komponente.
Hoop
Soos wat geloofskennis en -feite dui op die verlede, rig die hoop-komponent ons geloofsgedagtes op die toekoms. Hoop is die toekomsdimensie van ons geloof. Petrus beskryf dit mooi in 1 Pet 1:3-6 (Afr83) –
“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor,…”
Ongelowiges verkeer gewoonlik onder die wanindruk dat “geloof” net uit ‘n vae hoop bestaan en niks meer nie. Hulle is onbewus van die historiese feitelikheid van die Christelike hoop. Vir hulle is geloof ‘n sprong in die duisternis, terwyl dit in werklikheid ‘n staanplek is op rotsvaste feite. Hoop is ‘n Christen se toekomsvisie; en dis ook nie ‘n vae, onseker, “touch wood” tipe hoop nie, maar “‘n lewende hoop”, geanker in die lewende Christus. Die volgende komponent is:
Sekerheid
Geloof sonder sekerheid is ‘n uitmergelende stryd, ‘n skoot in die donker, nader verwant aan bygeloof of opinie as ware Christelike geloof. Hebreërs 11:1 (Afr83) verduidelik die aard van ons sekerheid soos volg:
“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”
Om te glo, is om seker te wees…dis nie net hoop nie, dis om seker te wees van dit waarop ons hoop. Soos reeds genoem, die Christelike geloof is gebaseer op die historiese handelinge van God in Christus. Selfs militante ateïste soos Richard Dawkins, outeur van die bekende boek, The God Delusion, erken dit deesdae teësinnig. Die Griekse woord vir geloof in die Nuwe Testament is “pistis,” wat in die Griekse filosofie die godin van vertroue, betroubaarheid en eerlikheid was. Haar opponent “Apate,” het misleiding en onbetroubaarheid verteenwoordig. Hieruit blyk dit dat die histories onderliggende konsep van geloof – selfs vanuit die heidendom – betroubaarheid, waarheid en sekerheid verteenwoordig het. Johannes bevestig die sekere wete van ons geloof in 1 Joh. 5:13-15 (AFR83) –
“Hierdie brief skrywe ek vir julle…wat glo in die Seun van God…sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het…”
Ons geloof moet ons bring by weet – by sekerheid. Dit bring my by die laaste komponent van geloof, naamlik:
Vertroue
Vertroue is die teenswoordige komponent van geloof, want sekerheid maak vertroue in God van dag tot dag moontlik. Volgens die woordeboek beteken vertroue (trust) “a firm belief in the reliability, truth, or ability of someone or something.” Die absolute kern van Christelike geloof is vertroue – ons vertrou God want Hy het Homself histories deur die millennia as betroubaar bewys. Vertroue maak geloof vir ons persoonlik, want elkeen van ons kan God nou daagliks persoonlik vertrou in lewe en in dood. Verder maak dit my geloof ook prakties, want ek kan myself nou volkome aan Hom oorgee, myself daagliks radikaal op Hom verlaat. Hierdie tipe geloof maak ons vreesloos, sterk en veerkragtig. The Message Bible vertaal hierdie radikale oorgawe in Psalm 13:5-6, soos volg –
“I’ve thrown myself headlong into your arms— I’m celebrating your rescue. I’m singing at the top of my lungs, I’m so full of answered prayers.”
Vertroue help jou om te verstaan dat alles in jou lewe, ongeag van hoe dit tans lyk, uiteindelik deur God bepaal word en tot jou voordeel sal strek. Paulus som dit mooi op in Rom. 8:1-2, 31, 37-39 –
“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. …Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?… Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here”.
Ek wil jou aanmoedig om diep na te dink en te bid oor elkeen van hierdie boustene van geloof. Spandeer tyd aan elkeen, identifiseer dit in jou daaglikse lewe, sien die leemtes raak en neem stappe deur gebed en studie om elkeen te versterk. Op hierdie manier sal jy groei om sterk, veerkragtig en vreesloos te word in jou geloofswandel!
GOD SEËN U RYKLIK!
Dr Jurie Vermeueln, Nasionale Direkteur