“Kersfees is nie net ’n dag nie, dis ’n denkwyse,” skryf Valentine Davies. Maar hoe lyk dié denkwyse? Die eerste belangrike gedeelte daarvan, wat uniek is aan Kersfees, word goed geïllustreer deur iets wat van tyd tot tyd met my gebeur: ek soek vervaard na my donkerbril, net om hom op my kop te vind, of ek soek my foon om na ’n datum op my kalender te kyk, terwyl ek die ding teen my oor hou!
Elke jaar vier die Christendom drie realiteitsveranderende aangeleenthede: Kersfees, Paasfees en Pinkster. Elkeen van dié los ’n spesifieke menslike verknorsing op: Kersfees doen weg met die afstand en verwydering tussen ons en God; Paasfees los ons sonde-probleem op; en Pinkster maak korte mette met ons gebrek aan geestelike krag. Deur hierdie drie dade het God ons nie net geestelik herskep nie, maar ook ons oorspronklike roeping herstel – om saam met Hom te wandel en as verteenwoordigers vir Hom en Sy koninkryk te dien totdat Sy glorie die aarde bedek, soos die waters die see bedek. Nou, dit klink alles indrukwekkend op papier, maar wat is die praktiese, dag-tot-dag implikasies van hierdie waarheid in ons lewens?
Baie mense, Christene inkluis, voel gedurig “ver van God af” en is gevolglik altyd op soek na Hom, pleitend en vol verlange vir Sy aandag, oortuig dat Hy elders besig is en dus onbeskikbaar is om gebede te hoor of te beantwoord. Kersfees maak ’n permanente einde aan hierdie bedrieglike denkvirus van ’n afwesige God, want met Kersfees vier ons die God wat mens geword en onder ons kom woon het – en sodoende enige afstand of tyd tussen ons en Hom verwyder het. Vir 2000 jaar al is daar geen verwydering of afstand meer tussen ons en Hom nie – in Christus, word jy en God een!
Paulus beskryf dit as volg: ‘Maar van die vryspraak deur die geloof sê hy: “Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?’ nie,” dit is, om Christus af te bring, “of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring. Nee, die Skrif sê: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart…”’ (Rom 10:6-8 Afr83). Jy hoef nêrens heen te gaan om in God se teenwoordigheid te kom nie. Dis nie nodig om op ’n pelgrimstog te gaan, of vir ure rondom die Ka’ba in Mekka te loop, of ’n berg te klim, of (soms vir dae aaneen) soos die aanhangers van die Virgen de los Angeles (Maagd van die Engele) in Costa Rica op jou knieë te kruip totdat jy uiteindelik haar 20 cm hoë standbeeltjie in sy klein goue heiligdom bereik nie. Kersfees leer ons dat God altyd met ons is … in ons, nader as ons gedagtes en asem! Dink ’n bietjie daaroor.
Om terug te kom by die vergelyking wat ek aan die begin getref het: hou op soek na die foon teen jou oor of die donkerbril op jou kop. Reik eenvoudig uit deur geloof, in liefde, en raak aan Hom. God is so na aan ons dat Hy kan beloof: “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor” (Jes 65:24 Afr83). Paulus beskryf dit ook goed: “Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort … Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid” (Kol 1:26, 27 Afr83). Halleluja!