deur Dr Jurie Vermeulen

In die evangelie van Johannes lees ons:

“Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur?

Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Vader, verheerlik u Naam!” Toe het daar ‘n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.” Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe” (Joh. 12:27-31 Afr83). 

Dit is die week voor Jesus se kruisiging. Hy is diep ontsteld (“troubled”) en bang vir wat voorlê. Die groeiende skaduwee van die kruis, met sy gepaardgaande gewelddadige worsteling en uiteindelike gruweldood, kruip al nader. In hierdie oomblik is dit asof die emosies van Sy mensheid skielik sigbaar na die oppervlak borrel in die vorm van vrees vir wat op Hom wag: verwerping, genadelose geseling, ondraaglike pyn, uitgerekte marteling, en uiteindelik die verligting van die dood. Dit alles rus swaar op Sy gemoed; so swaar dat Jesus wonder of Hy nie maar moet vra dat die Vader Hom uit hierdie uur moet red nie…

Dit impliseer dat Hy só benoud was dat die gedagte om die kruis te systap en daarmee saam sy versoeningswerk, ‘n wesenlike versoeking was! Dis asof die ontsaglike sielkundige en emosionele druk van die kruisiging skielik so ondraaglik geword het dat Hy sy ewewig vir ‘n oomblik verloor het en ‘n alternatief wou vind.

Dit is presies wat deurlopende stres en druk doen: dit maak dat ons maklik perspektief verloor, dat ons nie meer helder kan dink nie en instinktief vanuit vrees reageer. Genadiglik praat Jesus met Homself, korrigeer Hy Homself: “Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur.” Hy herinner Homself aan sy roeping, die uitsluitlike doel vir Sy koms na die aarde – om Sy lewe te gee as ‘n losprys vir alle mense. En wanneer Hy sy ewewig terugkry, verklaar Hy: “Vader, verheerlik u Naam!”, en God antwoord Hom uit die hemel as ‘n bemoediging en bevestiging van Sy ewige verlossingsplan.

Die dam sonder water

Die “Leaky Dam” is ‘n 100 jaar oue dam in ons gebied wat altyd leeg staan omdat sy wal soos ‘n sif lek. Al is die 30 meter hoë damwal meters dik en van versterkte beton gemaak, het dit begin lek as gevolg van tien dekades se stres; die onafgebroke, daaglikse druk van duisende tonne water was uiteindelik net te veel. Vandag spuit water op tallose plekke deur die damwal vir ‘n week of wat nadat dit uitermatig baie gereën het. Die res van die tyd is dit sonder water.

Die lewe is nie maklik nie, daarvan kan enigiemand ouer as twintig met oorgawe getuig. Om die waarheid te sê, elke mens wat ‘n 40ste verjaardag vier en steeds relatief normaal is, sonder om gereeld tyd in slaapklinieke en rehabilitasiesentrums te spandeer, behoort ‘n medalje te kry! Verhoudings, familie, loopbane, studies, finansies, siektes en pandemies plaas geweldige, deurlopende druk op die menslike psige. Ons gaan slaap met stres en staan op met stres. Net soos ons Leaky Dam se wal moet ons sterk bly staan ten spyte van ononderbroke druk –  geestelik, emosioneel en intellektueel. En by dit alles moet ons nog kompeteer om in ‘n grootliks genadelose wêreld kop bo water te hou! Die stres van die moderne samelewing is duidelik te sien in dwelm-, alkohol- en pilverslawing, egskeidings, gebroke families en slegte verhoudings wat endemies is aan kulture wêreldwyd.

So, wat staan ons te doen? Ek glo dat elkeen van ons moet leer om, net soos Jesus in Sy tyd van uiterste benoudheid, met onsself ‘n eerlike gesprek te hê. Jesus moes Sy normale instinkte van benoudheid, vrees en  twyfel in die rede val met die waarheid van Sy roeping, betekenis, die Vader se teenwoordigheid, Sy onveranderlike liefde en geborgenheid. Hy het juis na die aarde gekom vir hierdie uur! Slegs deur Homself aan dié waarhede te herinner kon Hy weer sy balans herwin en stabiliteit en krag vind vir die week van pyn wat eindeloos voor Hom uitgestrek het.

Elkeen van ons moet ook besef dat God ons juis geskep en gestuur het vir hierdie tyd en omstandighede – met die voorkoms, talente en gawes wat ons ontvang het – om Hom te verteenwoordig en Sy wil te doen tussen die familie, vriende en kollegas wat Hy om ons geplaas het. Niks is per ongeluk, per toeval, of uit plek in ons lewens nie. Ons sal ons dikwels verwronge vrees- en twyfelgedagtes net eenvoudig in die rede moet val met die Waarheid, en onbevange en onbevrees voortbeur. Immers, die “volmaakte liefde (van God) verdryf vrees” (1 Joh. 4:18)!

‘n Les uit die Kronieke van Narnia

In die laaste boek van CS Lewis se Kronieke van Narnia-reeks, The Last Battle, lees ons hierdie aangrypende woorde na afloop van die laaste geveg tussen goed en kwaad:

“Isn’t it wonderful?” said Lucy. “Have you noticed that one can’t feel afraid, even if one wants to? Try it.”

“By Jove, neither one can,” said Eustace after he had tried. 

In terme van ons kronologiese tyd hier op aarde, het die finale afrekening met die Duiwel, die sonde en die dood, nog nie aangebreek nie. Dit doen egter niks afbreek aan die Waarheid nie: Jesus het, in beginsel, die oorlog reeds 2,000 jaar gelede geveg en afgehandel. Hy sê juis in ons skrifgedeelte hierbo: “‘Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe.’”

 Al het die finale voltrekking van die vyand se vonnis dus nog nie aangebreek nie, is die finale oorlog reeds lank gelede gewen en afgehandel. As kinders van die Lig is ons daagliks hard aan die werk om, as verteenwoordigers van God, hierdie oorwinning af te dwing in die detail van ons lewens. Deur elke emosionele-, intellektuele-, verhoudings-, gesondheids-, finansiële- en geloofsoorwinning, beur Christene vorentoe deur die ononderbroke druk en weerstand van die lewe, na die heerlike beloning wat na ons roep! Paulus som dit so mooi op:  

“Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie…Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?… Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom. 8:18, 31, 38-39 Afr83). 

      

Tags :
Share This :

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4