Familie is ’n geskenk. ’n Godvresende gesin skep ’n sterk bybelse grondslag wat sy lede in staat stel om die wêreld se aanslae teë te staan. Dit bied ’n veilige hawe waar hulle deur ouers en grootouers se voorbeeld van God se onvoorwaardelike liefde en aanvaarding kan leer.

Tog sukkel families oor die hele wêreld in hul verhoudings. In sommige gevalle word die konflik deur eksterne faktore soos armoede, verslawing en mishandeling veroorsaak; ander kere is daar goeie bedoelings, maar gebrekkige kennis. Een luisteraar het teenoor FEBA Kambodja erken: “As gevolg van my besige lewe het ek nooit genoeg tyd vir my gesin nie, so ek het baie om te leer oor hoe om ’n gesin groot te maak en ’n goeie voorbeeld vir die gemeenskap te stel.”

FEBA is passievol daaroor om luisteraars te help om gesonde familieverhoudings te geniet.

Modelgesin

“Sekere aspekte daarvan om ’n vrou, ’n ma en ’n verantwoordelike individu in die gesin te wees, sal altyd uitdagings inhou,” het ’n FEBA Kambodja-luisteraar vertel. “Ek voel met tye moeg en leeg. Deur na Krusa FM se Comfort at Night-program te luister, kon ek vrede en verligting van my angs vind, te danke aan God se liefde.”

Baie luisteraars van FEBA Kambodja se stasie, Krusa FM (ook bekend as Family FM), kom uit huishoudings waar mishandeling plaasvind, veral in landelike gebiede. Radio is dikwels die enigste medium waardeur die span op ’n gereelde basis leiding en bemoediging vir mense daar kan bied.

Hul gesin-seminare is sover ook ’n reusesukses. Die seminare word in stede en verafgeleë dorpies gehou, deur plaaslike pastore en organisasies in samewerking met FEBA aangebied, en is oop vir die hele gesin. Elkeen fokus op die tema: “Leef as ’n Model Christengesin”. Die aanwesiges leer oor die rolle van mans en vroue in die huwelik, ontvang berading en leer van gesinsbeplanning. Een persoon het gesê: “Dis my eerste keer by ’n Krusa FM-seminaar … ek het baie geleer oor kinderopvoeding, vergifnis en die gesinslewe. Ek en my eggenoot het besluit om te verbeter deur God se Woord toe te pas en Hom toe te laat om ons swakhede te korrigeer.”

Fokus op die gesin

FEBA Malawi se Focus on the Family-program beoog om genesing te bring in die vele verhoudings wat sukkel weens swak kommunikasie, verskillende oortuigings of kulture, ekonomiese struikelblokke, en ’n gebrek aan kennis wanneer dit kom by gesondheid in die gesin.

Die program dek ‘n wye verskeidenheid onderwerpe wat beide die huwelik en gesinslewe aanspreek: die rol van man en vrou in die huwelik, intimiteit, wat dit beteken om jou lewe neer te lê, God se gawes vir die gesin, geestelike groei in die gesin, en baie ander. Party episodes bring die gesin om ‘n tafel bymekaar om sake te bespreek wat húlle spesifiek pla. Dié episodes is besonder gewild onder luisteraars.

Een egpaar se getuienis verduidelik die omskeppende krag van FEBA se boodskap. Hulle stryd om kinders te hê het huweliksprobleme veroorsaak. “Op ‘n dag hoor ek toe die Focus on the Family-program, wat die spyker op die kop geslaan het,” het die vrou gedeel. “Die program het vir ons die regte medisyne vir ons gesin gegee. Te danke aan die aanbieder se raad het ons ons eerste kind gehad, wat vir ons ’n groot geskenk van God was.”

Tags :
Share This :