In sommige lande waar natuurrampe geneig is om voor te kom, is FEBA-spanne altyd gereed en toegerus om n helpende hand te bied – sowel geestelik as op n baie praktiese manier deur hul Rampreaksie-radio (RRR) spanlede.

“’n RRR-denkwyse [beteken ons] is gereed om in die reaksiegebied te wees wanneer ’n ramp tref of selfs wanneer een op pad is; dat ons mobiliseer en gereed is om enige oomblik te ontplooi, gereed om kommunikasie as hulp te voorsien.” Dít is hoe Luis M. Castillo, direkteur van FEBA Filippyne, die denkwyse opsom wat nodig is om luisteraars deur Rampreaksie-radio te bedien.

Sy span is op 24 Julie 2024 ontplooi nadat Tifoon Carina in ’n supertifoon ontaard het, en met beide Tropiese Sikloon Butchoy en die seisoenale monsoenreën gekombineer het om verwoesting in die Filippyne te saai. Die Philippine Star berig dat ‘n geskatte 4.8 miljoen mense deur die swaar vloede geraak is, en lede van die FEBA Filippyne-span tel onder hulle.

“Ons personeel is ongedeerd, met sommige van hul huise wat deur die vloede beskadig is,” sê Direkteur Castillo. “Deur God se genade is hulle en hul families veilig.”

FEBA Filippyne se radiostasies in die geaffekteerde gebiede het na Rampreaksie-programme oorgeskakel, wat die uitsending van regerings- en noodorganisasies se aankondigings en nuus insluit. Hulle deel ook inligting aangaande skuiling, mediese sorg en kos, en maniere om kontak te maak met familielede.

Wat is Rampreaksie-radio?

Die idee van Rampreaksie-radio het ontstaan ná die vernietigende aardbewing en tsunami in die Indiese Oseaan in 2004, toe dit duidelik geword het dat daar behoefte aan effektiewe kommunikasie in geteisterde gebiede is. Dit is in samewerking met FEBC/FEBA Internasionaal ontwikkel, en vandag is daar verskeie opgeleide RRR-spanne in die Filippyne, Indonesië, Pakistan, Nepal en Indië.

Spanne word toegerus met, en opgelei in die gebruik van ‘n “ateljee-in-‘n-tas”, met die idee om binne 72 uur ’n noodradiostasie in ’n geteisterde gebied te vestig. Hulle neem ook ‘n noodvoorraad radio’s saam, wat in die gemeenskap uitgedeel word sodat mense toegang kan hê tot die uitsendings. Buiten praktiese hulp, saai RRR-spanne ook boodskappe van hoop en bemoediging uit, en speel musiek. Hulle saai gewoonlik vir 30 dae uit ná die ramp, met uitsendings wat geleidelik oorskakel van noodverligting na programme wat fokus op berading en die daaglikse lewe, insluitend praktiese inligting oor behuising en werksgeleenthede.

RRR-stasies dien soms as springplank om permanente FEBA-radiostasies te vestig. Toe Tifoon Yolanda in 2013 verwoesting in Tacloban gesaai het, het RRR-Filippyne sulke goeie diens gelewer dat die gemeenskap hulle gesmeek het om aan te bly. ’n Paar jaar later het FEBA Filippyne se DYFE FM begin uitsaai.

Dit wys ons dat God selfs tydens rampe deure kan oopmaak. Bid saam met ons vir FEBA se RRR-spanne reg oor die wêreld waar hulle rampgebiede dapper binnegaan om die kragtige waarheid van Psalm 46:2-3 met gemeenskappe te deel: “God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see…”

Tags :
Share This :