Ek het vir die grootste deel van my Christelike lewe nie verstaan wat geloof behels nie. Ek het alles wat ek geweet het, aangewend om geloof te hê sonder om te twyfel. Maar, al het ek myself aangespoor om in geloof te bid, die Woord te lees en geloofsbelydenis af te lê, het ek altyd aan die uitkoms van my gebede getwyfel. Ek het nie gesukkel met reddende geloof nie – die sekerheid van vergifnis en redding wat ek vir baie jare ervaar het nie. Ek het wel nie die tipe geloof verstaan wat berge kan versit – die tipe geloof wat iets van God kan verkry nie. Ek het geloofsgenesers en Woord-van-Geloof sprekers geraadpleeg; ek het boeke gelees en deur al die geloofskrifte gewerk. Ek het gereeld gevas en tyd deurgebring in gebed en met studie – maar dit was tevergeefs! Ek onthou nog die plek waar ek tydens een van my vassessies gesit het, en toe ek een middag omstreeks 14:00 my Bybel opgetel en God weereens gevra het om my te help om geloof beter te verstaan.
My Bybel het oopgeval op Matteus 28:18-20 waar ons Jesus se beroemde laaste woorde aan die 500 dissipels op die Olyfberg voorgelees het voordat hulle na die hemel opgevaar het: (18) “Jesus kom toe nader en sê vir hulle: ‘Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. (19) Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense My dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, (20) en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.’”
Nadat ek hierdie gedeelte gelees het, het ek nog steeds gedink, “Wel, dit het niks met geloof te make nie. Die woord ‘geloof’ kom nie eers daarin voor nie.” Maar sodra ek weer begin lees het, het ek skielik geloof vir die eerste keer in my lewe verstaan!
Dit is wat gebeur het:
- Toe ek v18 gelees het, het ek skielik besef dat alle gesag deur die Vader aan Jesus gegee is! Christene het nooit enige persoonlike gesag van God ontvang om enigiets bonatuurliks te doen nie. Alle gesag setel in Christus alleen. Ek het geweldige verligting gevoel omdat ek al die tyd gedink het dat ek veronderstel was om so geestelik te wees en soveel in krag te groei dat ek genoeg van ‘die salwing’ sou ophoop om effektief te dien. En as ek nie kon nie, was dit net omdat ek ‘n gebrek aan geloof, heiligheid, toewyding en gebed gehad het.
- Die tweede openbaring wat ek ontvang het, was: “Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies, doop … (20) en leer hulle om alles te gehoorsaam … En waarlik, Ek is altyd by julle …” Ek het gesien dat alhoewel ek geestelike gesag kortkom, beveel die Een met alle gesag my om te gaan en met vrymoedigheid alles te doen wat nodig is. Hy ondersteun my met elke tree van die pad en deur sy teenwoordigheid het ek al die gesag en mag wat ek ooit sal nodig hê om in mag te dien.
Wat ‘n verligting! Ek het besef dat geloof en die bediening min met my te make het. My verantwoordelikheid is bloot om te gaan, te bid en te praat terwyl ek op Sy almagtige teenwoordigheid vertrou. Ek kan die siekes en verdruktes dien sonder om beangs te wees. Anders as in die verlede, het my verantwoordelikhede nie meer ingesluit om genoeg salwing op te bou deur my eie heiligheid en geloof nie. Ek moes net op God vertrou vir die uitkoms – iets waarin ek sonder twyfel kan glo.
Die feit dat Jesus aan die 12 en die 72 magtiging gegee het om voor Hom uit te gaan na die dorpe en stede van Israel om siekes te genees, ens, verander niks (Luk. 9:1, 10:19) want hulle het nog geen gesag gehad nie – afgesien van Jesus. Hulle het nooit enige geestelike gesag of krag in hulself opgehoop nie, maar het bloot onder Sy Messiaanse salwing gewerk vir daardie spesifieke sending. Na die uitstorting van die Heilige Gees het dieselfde ding herhaaldelik met Sy apostels gebeur; en Hy doen dieselfde tot vandag toe.
Hierdie gesag moet nie verwar word met die Heilige Gees se teenwoordigheid in Christene wat in 1 Johannes 2:27 genoem word nie,
“Wat julle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie. Ja. Soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly.”
Hierdie salwing raak elkeen van ons persoonlik. Dit is God se blywende teenwoordigheid, die Gees van ‘Seun’-skap wat “Abba Vader” roep wat deur alle wedergebore gelowiges besit word. Dit is ons Trooster wat ons bemagtig en alles leer wat ons nodig het om Christelike lewens te lei. Die ander geloofsverwante salwing het ‘n impak op die mense rondom ons. So, hoekom wag en twyfel jy? Jy is vry om te gaan oorwin – die Een met alle gesag is by jou!
Kyk uit vir deel twee in Desember.
Tot volgende keer,
Dr Jurie Vermeulen
FEBA Radio SA