In die vorige blogs het ons gekyk na wat die vloek van die vyeboom in Markus 11 beteken het. Ons het geleer wat gebed in die verlede, hede en toekoms behels. Ek besef dat die idee en poging om gelyktydig gelowig oor drie tydsones heen te bid gebed na die ideale resep vir kognitiewe dissonansie laat lyk!
Maar gebed sal vir ons meer sin maak as ons in gedagte hou dat ons toekoms in God se verlede is. Gebed is in wese ‘n uitnodiging om te begin dink soos God wat in die ewige, tydlose dimensie leef. As tydgebonde sterflinge, bly ons egter vasgevang in die daaglikse angs van die onmiddellike en dringende sake van die lewe. Dit maak gebed ‘n onsekere en stresvolle saak. Gebed voel dikwels vir ons meer soos ‘n skraal moontlikheid; soos om ‘n loterykaartjie te wen!
Aangesien “chronos” die Griekse woord vir tyd is, noem ek voorlopig hierdie idee om oor al drie tydsones te bid, multi-kronistiese gebed. Multi-kronistiese gebed beteken eenvoudig om in die hede vir iets te bid, terwyl jy terselfdertyd aanvaar dat dit reeds in die verlede ontvang is! Boonop moet jy dan ook glo, sonder enige twyfel, dat dit waarvoor jy bid die een of ander tyd in die toekoms sal gebeur! Klink half onmoontlik, is dit nie?
Kwantumteorie en relatiwiteit leer ons dat hoe vinniger ons beweeg, hoe stadiger gaan die tyd verby, totdat, teen die spoed van lig, tyd teoreties tot stilstand kom en alles in die onmiddellike hede gebeur. Alle tyd en gebeure verander dan van ‘n tydlyn tot ‘n punt. Terwyl lig ongeveer 300 000 km/sekonde beweeg (ongeveer nege keer om die aarde in een sekonde), wat sou die spoed van gebed wees? Wel, dit is die spoed van die Gees – die spoed van ‘n gedagte, wat oneindig groter is as selfs die spoed van lig – dit is onmiddellik. Dit is amper asof God en ons op die kwantumvlak verstrengel raak. Wat ek ook al sê, resoneer dadelik in sy gedagtes en die inhoud van ons gebede weerklink oor die verlede, hede en toekoms. Tyd kom tot stilstand en raak irrelevant teen die spoed van Gees en denke. Ons gebed en die realisering daarvan reduseer tot ‘n blote punt waar alles tegelyk en onmiddellik gebeur – al sien ons die fisies resultaat gewoonlik eers later in tyd.
Berge in die see
Hoe gooi ons berge in die see deur geloof, of vervloek ons ’n vyeboom sodat dit van die wortel af verdor in een dag? Die geheim lê opgesluit in die multi-kronistiese aard van ons verhouding met God. Geloof sonder enige twyfel gebeur spontaan waar God ‘n openbaring van die toekoms sonder enige twyfel gegee het. Gebed sonder enige splintertjie twyfel in die uitkoms is gebaseer op openbaring en nie geloof nie. Geloof is die resultaat daarvan. Anders gestel, gebed sonder twyfel volg natuurlik waar God sy wil en ons toekoms aan ons openbaar het sonder enige twyfel. Die vyeboom sal opgedroog, of die berg sal in die see wees, as ons God dit so aan ons geopenbaar het. Al wat ons dan doen is om in gehoorsaamheid op te tree.
Dit beteken dat ons baie minder moet streef na groter geloof en eerder moet bid vir groter openbaring! Maar wat doen ons wanneer ons nie ‘n openbaring sonder twyfel oor die spesifieke uitkoms van ons gebed ontvang het nie? As ons eerlik is verteenwoordig dit tog uiteraard die oorgrote meerderheid van ons gebeds- en geloofslewens. Dan glo en rus ons uitsluitlik in God (die Bron) en nie die uitkoms nie. Ons geloofstryd vind plaas wanneer ons probeer glo sonder om te twyfel aan ‘n uitkoms wat God nie sonder twyfel geopenbaar het nie. Dis onmoontlik. In sulke gevalle fokus ons ons geloof op God – sy getrouheid en goedheid soos beskryf in Romeine 8:28 “…ons weet dat God in alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet, wat volgens sy voorneme geroep is.” Om dít te doen is baie makliker. Immers, God het nog nooit iemand gefaal wat op Hom vertrou vir iets inlyn met sy wil nie. Aangesien Jesus elke Ou Testamentiese-profesie kom vervul het wat sy Messiaanse bediening beskryf, sou die uitkoms van sy woorde en dade altyd bo enige twyfel wees – maak nie saak of dit duiwels, siektes, vyebome of berge behels het nie.
Prostese geloof versus mosterdsaad-geloof
In Lukas 17 vind ons dat Jesus sy dissipels leer om voortdurend, selfs sewe keer per dag, te vergewe, waarop sy apostels geantwoord het, 5 “…Vergroot ons geloof!” 6 Hy het geantwoord: “As jy geloof het so klein soos ’n mosterdsaadjie, kan jy vir hierdie moerbeiboom sê: ‘Word ontwortel en in die see geplant,’ en hy sal jou gehoorsaam.” Die Griekse woord wat hier gebruik word vir “vergroot,” is interessant. Dit is die woord wat gebruik word vir ons Engelse woord, prostese – ‘n kunsmatige liggaamsdeel soos ‘n been of arm. Met ander woorde, wat Jesus probeer leer het is dat die dissiples nie meer nodig het van wat hulle reeds het nie. Hulle het nie net ‘n blote geloofsprostese nodig nie, maar geloof van ‘n heeltemal ander kwaliteit – mosterdsaadgeloof.
Die krag van mosterdsaadgeloof hang nie af van die grootte daarvan nie, maar van kwaliteit. Trouens, volgens Jesus is enige hoeveelheid mosterdsaadgeloof voldoende vir enige onmoontlike taak, soos om dieselfde oortreder sewe keer per dag te vergewe of ‘n boom in die see te gooi! Mosterdsaadgeloof is daardie kwaliteit van geloof wat oor al drie tydsones heen onwrikbaar seker is – dit is ware multi-kronistiese geloof en is al wat jy ooit nodig sal hê om sonder twyfel in vrede, vreugde en oorwinning te lewe.
Dankie dat jy hierdie drieledige geloofsreis saam met my geneem het.
God seën jou ryklik,
Dr Jurie Vermeulen
FEBA Radio SA