Drie jaar gelede, op 24 Februarie, het Rusland die Oekraïne binnegeval. Meer as 1 000 dae al gaan die mans van Oekraïne oorlog toe en laat hulle geliefdes agter om te wag. Die lewe het op ondenkbare maniere verander: die klank van sirenes en missielaanvalle is nou alledaags; die parke en pleine is vol blomme en foto’s van dié wat gesneuwel het. Soldate wat huis toe keer, vind dit soms só moeilik om by die burgerlike lewe aan te pas dat hulle verkies om terug te keer na die oorlogsfront. Families word uitmekaar geskeur deur dood en egskeiding, soos die meedoënlose stres sy tol van mense se geestesgesondheid eis.

Een vrou het vir ’n FEBA-berader vertel: “Ek begin bewe elke keer wanneer die sirene loei. Ek kan myself nie help nie. Ek is heeltyd angstig – nee, ek is bang. Bang dat ’n missiel deur die venster vlieg en my lewe beëindig. Ek weet nie wanneer laas ek ‘n nag deurgeslaap het nie.”

Na drie jaar is die mense uitgeput en twyfel hulle of die oorlog ooit sal end kry. Selfs Christene begin vra: “As God goed is en gebed verhoor, waarom sleep hierdie oorlog dan so voort?”

Maar…mense bly steeds soekend na God. Volgens die FEBA Oekraïne-span het hulle ten minste ‘n 30% toename gesien in die aantal nuwe gelowiges en in kerkbywoning. Victor Akhterov, direkteur van FEBA Eurasië, sê die oorlog het mense voorberei op die evangelie. “[Mense] kom met oop harte, want die pyn van oorlog, die lyding van oorlog, het hulle harte oopgemaak. Gebroke harte is oop vir Jesus.”

FEBA Oekraïne ondersteun nie alleen burgerlikes deur hul radio-uitsendings en uitreike nie, maar ook soldate. Hulle het byvoorbeeld programme wat soldate spesifiek help met hul pyn en vrees. Soldate bel selfs uit die loopgrawe om meer van Christus te leer, sê Direkteur Akhterov. “Jy hoor ontploffings in die agtergrond, maar hulle sê: ‘Hou aan praat! Ignoreer die ontploffings – ek luister, want ek wil hierdie hoop hê.’”

Agt van FEBA Oekraïne se spanlede dien tans in die weermag – drie as kapelane en vyf as soldate. Een personeellid is ernstig gewond en ondergaan steeds rehabilitasie. Almal van hulle het families wat op hulle wag.

Op die tuisfront saai FEBA programme vir vroue en kinders uit en hulle bedryf ’n beradingslyn om luisteraars te ondersteun wat moeilike vrae vra. Die span hou ook van tyd tot tyd byeenkomste vir soldate se vrouens en dogters. Te danke aan FEBA Oekraïne se onlangse uitreik (“Embrace”), soek baie vroue nou meer opreg na God en sluit hulle by kerke aan.

Die volgende getuienis wys die kragtige effek van FEBA Oekraïne se bediening baie goed: Olga het FEBA Oekraïne se beraders gebel op soek na hulp met haar vrees vir die dood – haar eie, asook haar skoonseun op die oorlogsfront s’n. Toe die berader die Goeie Nuus met haar deel en sy hoor van God se liefde vir haar as Sy dogter, het Olga begin huil. Sy het besluit om op Christus te vertrou. “Dankie,” het sy gesê. “Ek het gedink ek is alleen. Dankie dat julle saam met my is en my aan my Vader bekendgestel het.”

Tags :
Share This :