Fisiese mishandeling. Verwerping. Dreigemente. Sedert Nesi in 2019 ’n Christen geword het, het sy dít en nog meer verduur van die mense in haar Malawiese dorpie.
“Ek het baie uitdagings in die gesig gestaar. Baie van die leiers in die dorp het ons seergemaak, fisies gestraf, en selfs my familie het van my af weggebreek.” Haar geloof het haar ook ongeskik gemaak as vrou en geen man wil met haar trou nie. “Omdat ek gekies het om Jesus Christus te verkondig, is ek nou ten volle afhanklik van Hom. Ten spyte van al die fisiese mishandeling het ek nog nooit weer ’n voet in hulle godsdiens gesit nie. Ek hou aan bedien in Jesus Christus se naam.”
‘n Ander vrou, Padma, deel: “My oom het na my toe gekom en gesê ek moet die dorp verlaat, en selfs al was ek sterwend, sou hulle my nie help nie. My familielede is nie by my nie en mag nie eens my huis betree nie. Selfs die dorpshoof gee nie om oor my lewe nie.”
Nesi en Padma se getuienisse is twee van verskeie wat FEBA Radio SA se nasionale direkteur, dr Jurie Vermeulen, en FEBA Kanada se direkteur, Evert van Steenbergen, gehoor het tydens hul toer na Malawi en Mosambiek aan die einde van Februarie. Die hoofdoel van die toer was om die inhuldiging van FEBA Mosambiek se sewende radiostasie, Victory FM, op 21 Februarie in Cuamba by te woon, maar die twee direkteure het eers Malawi toe gereis om vervolgde gelowiges te bemoedig en saam met hulle te bid.
Hoewel Malawiërs grootliks verdraagsaam is teenoor die Christendom, word dit met haat en straf begroet onder die Yao, wat merendeels Moslem is. Dis nie ongewoon vir Christene om uit hul dorpe verjaag te word, of dat hul huise vernietig word nie.
’n Nuwe stem in Cuamba
Victory FM is tot stand gebring in reaksie op aanhoudende versoeke van Cuamba se inwoners wat na programme van ’n ander FEBA Mosambiek stasie, Fountain of Truth, 300 km weg geluister het. Toe FEBA die nuwe stasie begin bou, het plaaslike inwoners dit op hulself geneem om self die bakstene vir die projek te maak. Meer as ’n honderd van hulle het die inhuldiging bygewoon en was verheug toe hulle iets te ete en te drinke kry.
Malawi en Mosambiek is verskriklike arm lande en die ergste deel van die armoede – volgens FEBA Mosambiek se direkteur, Bright Sonjera – is die hongersnood. “Mense het nie kos nie,” sê hy, “en hulle gaan dood as gevolg daarvan.”
Ten spyte van die moeilike omstandighede bly FEBA se personeel en luisteraars in Malawi en Mosambiek sterk staan in hulle geloof en vertrou hulle op God. Direkteur Sonjera hou FEBA se ware doel altyd voor oë en het dit as volg opgesom toe hy praat oor sy visie vir Victory FM:
“Daar is baie mense wat onbereik is en die radio sal hulle help om die evangelie te hoor.”