Op Valentynsdag, 2019, het FEBA Filippyne se radiostasie in Davao, DXFE, sy verjaardag saam met vreemde gaste gevier – ’n groep sekswerkers. “Die Here het hulle op my hart geplaas,” onthou Magnolia, die stasiebestuurder. “Hy het dit vir my op die hart gedruk dat hierdie prostitute so uitgesluit moet voel, veral op Valentynsdag.”
Die span het ’n groep van dié vroue as spesiale gaste genooi en luisteraars aangemoedig om klere, grimering en meer, as geskenke te gee. Die span het ’n spesiale ete gehou, vir hulle rose en Bybels gegee, en die storie gedeel van Ragab, die dapper prostituut van Jerigo wat twee Hebreeuse verkenners se lewens gered het, en een van Jesus se voorsate geword het.
Dit was die begin van die Blessing Rahab program.
Daar is meer as 4 000 geregistreerde sekswerkers in die stad van Davao. Weens beperkte hulpbronne fokus die Blessing Rahab-span se bediening op net een van die stad se strate, van waar hulle dan 20-30 vroue nooi om aan seminare deel te neem. Hier leer hulle vaardighede soos vleisverwerking of die maak van kruie-olie en -salf, wat hulle kan help om ’n bestaan op ’n ander wyse te maak. Die praktiese benadering is slegs een aspek van hierdie byeenkomste.
“Ons deel Bybels uit en deel Jesus se liefde met hulle op tasbare maniere,” sê Magnolia. “Ons bid ook saam met hulle en moedig hulle aan om hul laste en probleme met ons te deel. Ons maak geen beloftes dat ons kan help om hulle probleme op te los nie, maar ons gee hulle ’n skouer om op te huil en ’n simpatieke oor. Nog belangriker, ons wys hulle na Jesus toe… Ons maak ’n punt daarvan om hulle te help besef dat Jesus se liefde inklusief is.”
Hoewel Blessing Rahab nie ’n toegewyde radioprogram het nie, word dit tydens ander uitsendings bespreek. Die span nooi luisteraars om aan die program deel te neem deur hulle tyd en hulpbronne sonder vooroordeel te gee, en hulle is welkom om spesiale geleenthede met die Blessing Rahab-vroue as gaste by te woon.
Vandat hulle die Blessing Rahab program begin het, sê Magnolia, het hulle geleer om mense onvoorwaardelik lief te hê. “Aan die begin was ons so geskok wanneer ons gehoor het hoe hulle praat, hoe hulle optree en aantrek, maar ons het geleer om hulle lief te kry en (letterlik) te omhels. Ons huil saam met hulle en hou hulle hande soos susters vas.”
Die span se pogings het ‘n impak op die Blessing Rahab-vroue. Een van hulle sê: “In hulle oë is ons mense, nie gemors nie. Hulle bid ook vir my om ’n goeie mens te wees, sowel as vir my metgeselle. Hulle help jou, gee raad, loer in om te sien hoe dit gaan en of jy enige probleme het, en gee ondersteuning. Baie dankie aan DXFE dat hulle aan ons voorsien en dat hulle my help.”