In die berge van Suidoos-Asië is daar talle gehuggies waar mense geeste aanbid. Hierdie geeste kan dié van natuurelemente, voorwerpe of voorvaders wees. Daar word geglo dat hulle die elemente sowel as mense se lot beheer, en dat hulle gedurig tevrede gehou moet word deur middel van offers. Die plaaslike sjamaan is verantwoordelik hiervoor, want hy dien as ’n brug tussen die wêreld van mense en dié van geeste.

FEBA ELSEA (“Ethnic Languages of Southeast Asia”) het ‘n dinamiese bediening in daardie berge. Hulle saai die evangelie uit op kortgolfradio en sosiale media – Facebook Live is besonder gewild – en reis lang, moeisame afstande om luisteraars in afgeleë gebiede te besoek.

Tydens so ’n besoek het die span twee voormalige sjamane in ’n Mien-dorpie ontmoet wat as gevolg van Mien Radio se programme tot bekering gekom het. Een van die mans het die volgende getuienis gedeel.

“Ek kom uit ’n sjamaanfamilie en het die beroep by my pa geërf as ’n manier om aan my gesin te voorsien. Ek het nog altyd geweet dat geeste nie skadelose wesens is nie en dat hulle op mense teer vir hulle voortbestaan.

“Aan die einde van 2023 is my 25-jarige dogter getroud en het kort daarna begin blind word. Ten spyte daarvan dat sy ‘n dokter besoek het, het haar toestand nie verbeter nie, so sy moes deur ’n geeste-seremonie gaan. Hoewel die seremonie haar sig aanvanklik herstel het, het haar blindheid na ’n maand teruggekeer en getoon dat die seremonie oneffektief was. Nadat sy egter ’n aanbieder op ’n radioprogram hoor praat het van God se vermoë om blindes te help, het my dogter tot bekering gekom en is sy wonderbaarlik genees. Sy het haar sig nou al vir meer as ’n jaar lank terug en dit gaan goed met haar.

“’n Paar maande gelede het die woorde van ’n aanbieder op Facebook my aangeraak en ek het begin verstaan hoe ’n mens geeste en sonde kan ontvlug deur geloof in God te hê. As gevolg daarvan het ek na die aanbieder toe uitgereik vir hulp om hierdie geloof my eie te maak. Ongelukkig het my besluit om hierdie geloof te aanvaar die afkeer van my naastes, en selfs die dorpshoof, ontlok.”

Die dorpshoof het inderdaad albei mans verbied om in die dorpie oor God te praat en het die dorpenaars beveel om weg te bly van die sjamane en hul gesinne. Toe ’n paar van Mien Radio se personeel die sjamane wou besoek, het die dorpenaars gekeer dat hulle in die dorp kom. Nadat spesiale reëlings getref is, kon die sjamane die personeel ná donker by ’n mark ontmoet.

Die berge van Suidoos-Asië wemel van wonderwerke en God se genade motiveer FEBA ELSEA om Sy Woord aan te hou deel, totdat almal gehoor het.

Tags :
Share This :