FEBA STIG NUWE RADIOSTASIE IN N’DJAMENA, TSJAD

Op 18 Mei 2019 het ons nasionale direkteur, dr Jurie Vermeulen, na N’Djamena, die hoofstad van Tsjad gereis om ‘n nuwe radiostasie te stig. Daar het hy ps Thomassin Gotingar ontmoet wat die nuwe stasie in die toekoms sal bestuur. Tydens dr Vermeulen se besoek kon hy met ps Gotingar en mnr Ayeta Pauli, ʼn gekwalifiseerde klankingenieur, ʼn volhoubare werksverhouding bou. Mnr Pauli sal in die toekoms as produksiebestuurder van dié radiostasie dien. Dr Vermeulen het ook kantoorspasie by ‘n plaaslike televisiestasie bekom, wat die radiostasie sal huisves.

In ‘n onderhoud het ps Gotingar dié volgende gesê; “Ek glo die stasie sal ‘n groot impak maak, aangesien daar so baie verskillende etniese groepe in nabye landelike areas woon, wat nog nie die evangelie gehoor het nie.”

Tsjad is ‘n diverse land wat in die Sahel-streek van Noordelike Afrika geleë is. Die land is die tuiste van 141 verskillende mensegroepe en het ‘n bevolking van meer as 15 miljoen mense. Slegs 26% van die bevolking is Christen waarvan die meerderheid katoliek is. Behalwe vir radikale Islamiete, is korrupsie en armoede ook baie ernstige probleme in Tsjad. Korrupsie vind op elke vlak van die ekonomie plaas as gevolg van swak wetstoepassing en ‘n gebrek aan sekuriteit. Tsjad is ook een van die armste lande in die wêreld.

Ons nuwe stasie in N’Djamena sal die evangelie in ses verskillende etniese tale, asook in Frans en Arabies, uitsaai. Dié nuwe stasie het ook die potensiaal om binne ‘n 200km radius, twee miljoen mense te bereik. Deur die goedheid en genade van die Here sal ons nuwe stasie aan die einde van 2019 amptelik begin uitsaai. Ons sien uit daarna om in die nabye toekoms ‘n oorvloed van nuwe getuienisse vanuit Tsjad te deel.

 

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4