VROUE IN INDIË WORD BEMAGTIG

Duisende vroue word wêreldwyd daaglikse mishandel; nie net deur mans nie, maar ook deur hul families en selfs deur vroue — hul ma’s, hul susters en skoonma’s. Die mishandeling is nie net fisies nie, maar sluit ook dikwels sielkundige en emosionele mishandeling in. Al hoe meer stories oor die mishandeling van vroue kom na vore, selfs vandag nog, terwyl aktiviste veg om bewustheid oor die kwessie te vergroot.

Vir 75 jaar bemagtig en rus FEBA Suid Afrika mishandelde vroue toe, selfs in die mees afgesonderde en afgeleë areas regoor die wêreld, in samewerking met ons vennoot bedienings in die buiteland en julle, ons getroue ondersteuners.

Die vrug van ons werk is duidelik uit die terugvoer wat ons van die meer as 7.4 miljoen luisteraars jaarliks ontvang. Hier volg ‘n getuienis van een van ons luisteraars uit Indië, wie se pyn en lyding verander is in hoop en inspirasie. Die storie het vir ander vroue, wat deur dieselfde ervarings gaan, ‘n lig geword.

Die vrou, Saanvi, het haar eersteling in die wêreld verwelkom ‘n jaar nadat sy getroud is. Nie lank daarna nie het sy haar tweede kind verwag. Die nuus het haar skoonma se gedrag teenoor haar verander en sy het daarop aangedring dat Saanvi toetse ondergaan om die geslag van die kind te bepaal. In Indië kleef daar ‘n stigma aan vroue wat dogters verwag en word hulle in die meeste gevalle gedwing om die baba te laat aborteer. Saanvi het van die begin af geweier om die toets te laat doen, want sy het geweet dat sy ‘n dogter verwag. Sy het toe geboorte geskenk aan ‘n dogter, maar, in plaas daarvan dat haar familie die nuwe lewe verwelkom, het mishandeling Saanvi se voorland geword.

Sy het vertel dat haar skoonma op ‘n dag die pasgebore baba uit woede moedswillig op die vloer neergegooi het. Die baba het gelukkig geen ernstige beserings opgedoen nie. Saanvi vertel hoe sy met verloop van tyd daagliks deur haar familie en selfs haar eie man mishandel is. Sy het besef dat sy en haar kinders ter wille van oorlewing uit die huis sal moet vlug.

“Ek het myself gevra, waarom is daar so baie diskriminasie in ons samelewing? Dit was toe dat ek na ‘n radioprogram geluister het, oor die waarde van ‘n vrou.”

Sy het op ‘n dag baie toevallig op die program afgekom, terwyl ‘n groep vroue om ‘n radio saamgedrom het, wat een van hulle as geskenk ontvang het. Die bejaarde vrou se storie, oor wie die omroeper gepraat het, het Saanvi aangeraak, want haar ervaring was presies dieselfde as dié van die bejaarde vrou.

“Haar verhaal was baie dieselfde as myne, want sy het ook ongelooflike lyding deurgemaak. Maar nou was sy vry daarvan en het met vrymoedigheid hoop aan ander geoffer. Sy was oud en ek nog jonk. Hoe kon ek langer stilbly? Ek moes iets doen.”

Gemotiveer deur die radio programme, het Saanvi begin uitreik na vroue met soortgelyke behoeftes. “Ek het alles wat ek deur FEBA se radioprogramme geleer het gebruik en mense begin help. “

Sedert sy die program gehoor het, het Saanvi honderde kwesbare en mishandelde vroue gehelp om die vaardighede te ontwikkel om werk te bekom. Daarmee saam het hulle begin groei in God se liefde vir hulle en uiteindelik baie sterker en meer onafhanklik geword.

 

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4