Alle tipes geloof is nie gelyk nie! (Deel 4)

In vorige blogs het ons gekyk na die betekenis agter die vervloeking van die vyeboom. In deel twee, aan die hand van Markus 11, het ons gesien dat gebed die verlede, hede en toekoms omvat, en in deel drie het ons geleer dat gebed ‘n tydlose, ewige sone is waar kommunikasie met God plaasvind teen die spoed van gees of gedagte – onmiddellik. In deel vier gaan ons sien dat dit wat ons “geloof” noem, nie noodwendig altyd ware geloof is nie.

Eerstens is daar ‘n ongegronde oortuiging wat ons dikwels “geloof” noem, wat eintlik suiwer menslik in oorsprong is. Ons oortuig onsself dat wat ons glo ‘n getroue weerkaatsing van die werklikheid is, soos ware geloof immers is. Dié kategorie van “geloof” sluit in al die vreemde, ongegronde oortuigings wat ons in die wêreld vind, bv. dat die aarde plat is, dat demone uitdryf word deur die naam van ‘n heilige sewe maal te sê, dat Jesus na Amerika gereis het nadat Hy in Jerusalem uit die graf opgestaan het (Mormone) en, die vreemdste een van almal, dat die heelal spontaan vanuit niks ontstaan het en deur niemand ontwerp is nie! Hierdie tipe “geloof” is blote opinie wat op ideologie en filosofie gebaseer is en nie op verifieerbare feite nie.

‘n Ander soort oortuiging wat gereeld “geloof” genoem word, is nader aan die Waarheid en lei dikwels tot reddende geloof. Dit is ‘n algemene, vae, onseker tipe “geloof” – dis eintlik nader aan hoop, en die gemiddelde kerk het gewoonlik ‘n hele groep lede wat in hierdie kategorie val. Hulle hoop dat God werklik bestaan, maar hulle is glad nie seker nie. As jy vir hulle die tipiese EE3 evangelisasie-vraag sou vra – “As jy vanaand sterf, sal jy saam met God in die hemel wees?” – raak dit duidelik dat hulle nie seker is van hul saligheid nie. Hierdie “geloof” is ‘n tree nader aan ware geloof as bv. agnostisisme en motiveer mense dikwels om God te soek ten einde sekerheid te bekom. Hulle is die “soekers” wat steeds baie meer twyfel as sekerheid oor God se bestaan het, en is geneig om in vae terme na God verwys – “Voorsienigheid,” “die man daarbo,” “die noodlot,” ens. Meeste van ons vorm deel van daardie kategorie wanneer ons met ons geestesreis begin.

Die derde kategorie verteenwoordig ware, reddende geloof – dis gegrond op die feite van die evangelie en sluit gewoonlik in ‘n persoonlike ervaring van transformasie wat skielik of geleidelik plaasgevind het. Dis gereeld die gevolg daarvan dat iemand na God begin gesoek het of op ‘n betekenisvolle manier aan die evangelie blootgestel is. Anders as die vorige twee kategorieë, vind hierdie geloof sy oorsprong in God en nie in die mens nie. In Ef. 2:8-9 beskryf Paulus dit as volg: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” Reddende geloof verbind ons aan God deur Sy Gees. Dis gebou op geestelike openbaring en verskil kwalitatief van hoop, opinie, filosofie of godsdienstigheid. Wanneer die Gees reddende geloof aan iemand gee, verander hy die ontvanger se hart en denke sodat hulle op ‘n bonatuurlike manier verstaan dat “geloof” nie ‘n onseker sprong in die duister is nie, maar eerder ‘n stewige staan op die soliede Rots van die ewige evangelie. Hierdie “geskenk” verander die individu se lewe eens en vir altyd, en neem hulle vanuit die koninkryk van duisternis na Christus se wonderbare lig. Hulle is die “heiliges” en die “kinders van God” waaruit die kerk van die God bestaan.

Die vierde tipe geloof wat ek wil noem, is die soort wat ons in dele twee en drie van hierdie geloof-reeks bespreek het, nl. geloof sonder twyfel, of mosterdsaad-geloof. Dis die mees ontwikkelde vorm van geloof, want dis meestal vry van ons menslike onvolwassenheid, twyfel en strewe. Ons eie menslike harte kan dit nie produseer nie, want dit word gebore uit goddelike openbaring. Dis nie “groot geloof” nie maar ‘n sekere kwaliteit van geloof – geloof sonder twyfel. Dis die suiwerste vorm van vertroue in God moontlik aan hierdie kant van die ewigheid. Dis geloof wat effektief funksioneer in die geestelike dimensie. Dit versit berge en laat God se krag los op aarde. Dis die geloof waarin Jesus geleef het en waarvan Heb. 11:1 praat: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Mosterdsaad-geloof sluit in al die sinonieme vir sekerheid wat in die woordeboek te vinde is!

Ek vertrou dat jy hierdie geloofsreis sover saam met my geniet het.

Mag God jou ryklik seën.

Dr Jurie Vermeulen

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4