Die albasterflesvrou se kwaliteite (deel 2)

Hierdie is die tweede en laaste deel waarin ons fokus op die albasterflesvrou van die Bybel. Lees gerus weer Markus 14: 3-9 en daarna my April-Blog waarin ons begin het om die kwaliteite van die albasterflesvrou uit te lig. In die vorige Blog het ons twee van haar mees opsigtelike kwaliteite uitgelig, en ons kyk nou na die res.

Die derde kwaliteit wat my opval, is die feit dat sy 100% gefokus was op Jesus. Die deftige Fariseërshuis, die statige gaste, die keurige meubels en die lekker kosgeure het haar as buitestaander, en waarskynlik ‘n vrou van twyfelagtige reputasie , nie geïntimideer nie – sy was totaal gefokus op die persoon van Jesus! Sy het besef dat al die ander goed net bysake was – eintlik maar net agtergrondgeraas. Soms kan Christene, en veral dienaars, hierdie beginsel uit die oog verloor en begin om hul eie bediening te bedien! Ons begin werk om ‘n organisasie te bou en te onderhou, en in die proses hou ons op om Jesus te dien – die Een waaroor alles eintlik gaan. Diens aan Jesus en aan mense (nie organisasies nie) is mos waaroor bediening eintlik gaan. Eeue nadat van ons deftige kerke en organisasies net puinhopies oorgebly het, sal ons diens en liefde vir Jesus en sy mense steeds vasstaan soos ewige monumente!

In hierdie chaotiese tyd waarin ons tans leef, word dit opnuut belangrik dat ons nie fokus moet verloor nie. Dit is belangrik dat ons oë vasgenael bly op ons Verlosser en Here, Jesus Christus. Daar is so baie dinge wat kan veroorsaak dat ons, ons fokus kan verloor: oorloë, vloede, onrus, en vele meer. Tog is dit nodig om veral wanneer ons die druk van so ‘n storm beleef, ons ons oë op Jesus moet hou. Wanneer jy tot God bid, kan jy vra dat Hy jou moet help om meer waardering te toon en meer van God se teenwoordigheid bewus te wees.

Die vierde kwaliteit van die albasterflesvrou se liefdesdaad wat my beïndruk, en sekerlik bygedra het tot Jesus se waardering van haar offer, is die persoonlike liefde, passie en dankbaarheid wat sy teenoor Hom openbaar het. Sy het Jesus se uniekheid herken en was opreg en diep dankbaar vir wie Hy is en wat Hy vir haar as mens gedoen en beteken het. Dit is nie maklik om aldag en heeldag dankbaarheid te toon nie, maar vandag het ons opnuut ‘n geleentheid om Hom deur ons aksies te kan seën net soos die albasterflesvrou dit meer as 2000 jaar gelede gedoen het.

Die vyfde, en ongetwyfeld belangrikste, element van die vrou se bediening was die feit dat sy Jesus profeties vooruit gesalf het vir Sy dood. Dit het Hom kragtig aangespreek, soveel dat Hy dit pertinent noem. Hier is iemand wat Jesus se diepste vrees en benoudheid verstaan het. Die ander dissipels was onsiende – hulle was aan die stry oor wie is die belangrikste onder hulle, en wie gaan die ministersportefeuljes beklee wanneer Jesus die gehate Romeinse juk op Israel vernietig en sy nuwe kabinet aangestel het! Hier is iemand wat baie dieper sien en Jesus persoonlik wil kom versterk, bemoedig en aanspoor om Sy vader se plan tot op die laaste druppel bloed te volbring! Dit was vir Hom persoonlik bedoel en vandaar die diepe betekenis wat dit vir Hom gehad het.

Kom ons poog om al die uitsonderlike kwaliteite wat die albasterflesvrou ons so moeiteloos leer, ook daagliks in ons lewens toe te pas en so deel te word van die groot beweging van seën in Jesus se koningryk. Diensbaarheid is ‘n kwaliteit wat onlosmaaklik deel is van die Christen se lewe. Indien dit nie ‘n natuurlike kwaliteit is nie, is dit genadiglik ‘n kwaliteit wat ons kan aanleer.

 

 

Ek sien uit na ons volgende gesprekvoering.

Dr. Jurie Vermeulen,

FEBA South Africa

 

 

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4