Die albasterflesvrou se kwaliteite

Tyd vlieg, en hierdie is reeds die vierde maand van ‘n jaar wat vorentoe beur met rasse skrede. Ons reeks oor diensbaarheid is nog glad nie uitgeput nie, en in hierdie blog wil ek graag vir ‘n oomblik stilstaan by die albasterflesvrou van die Bybel. Dis ‘n verhaal waarvoor ek nooit moeg sal raak nie en een waaruit ek meer leer oor diensbaarheid, elke keer wat ek dit lees. Hierdie is die eerste deel van twee artikels oor die kwaliteite van die albasterflesvrou (die tweede deel volg in die Mei-blog).

Markus 14:3-9 vertel ons die verhaal van die albasterflesvrou: “Terwyl Hy aan tafel was, het daar ‘n vrou gekom met ‘n albasterfles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvanop Sy kop uitgegiet. Party van die mense het hulle verontwaardiging onder mekaar uitgespreek: ‘Waarvoor hierdie vermorsing van reukolie? Die reukolie kon vir meer as driehonderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.’ En hulle het teen haar uitgevaar. ‘Laat staan haar,’ het Jesus gesê. ‘Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ‘n goeie daad aan My gedoen. Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar.’”

Wat ‘n uitsonderlike eer dat Jesus dadelik besluit het dat dit wat hierdie vrou vir Hom gedoen het, altyd saam met die evangelie verkondig sou word. Dit het my laat wonder wat Jesus so uitermatig beïndruk het van haar aksie: Waarom is hierdie vrou, uit al die mense wat Jesus daagliks bedien het, uitgesonder vir hierdie ongewone lof? Ek kan nie dink aan enige ander persoon in die Bybel wat hierdie selfde eer te beurt geval het nie.

Die eerste kwaliteit wat my opval van hierdie “goeie daad” is dat dit ‘n uitsonderlike duur offergawe was aan Jesus. Hierdie salf was soveel werd as ‘n hele jaar se gewone dagarbeid. Dit wat haar aan die lewe kon hou vir ‘n hele jaar giet sy selfopofferend oor Jesus se hoof uit. Sy het seker gewroeg om by daardie punt uit te kom, veral as sy ‘n enkelloper was wie nie baie materiële sekerheid gehad het of boonop nie veel besit het nie. Dis byna soos die weduwee wat Jesus net so beïndruk het met haar enkele stuiwer in die offerkis.

Die tweede kwaliteit wat my opval, is die onmiddellike vervolging en kritiek wat losbreek onder die ander wat sit en toekyk. Hulle het dadelik planne vir hierdie kosbare olie: “Wat ‘n vermorsing, ons kon dit verkoop het en vir die armes gesorg het, of minstens ons eie daaglikse finansiële druk verlig het”

Dis waar dat diegene wat God se wil doen en die vyand se planne verydel, nooit vry sal wees van weerstand, teenstand, kritiek en vervolging nie. Die oomblik as iets kragtigs gebeur in God se koninkryk, begin al die rusbank-kenners hul mening uitspreek oor hoe dit eintlik gedoen moes gewees het. Maak vrede daarmee, net soos hierdie vrou, en voer jou opdrag ongestoord uit soos jy dit van Hom ontvang het.

Volgende maand sal ons nog kwaliteite van die albasterflesvrou uitlig.

Dr Jurie Vermeulen

Nasionale Direkteur: FEBA SA

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4