En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot Sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd lank gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!

– 1 Petrus 5:10

Jemen, wat voorheen ‘Voorspoedige Arabië’ genoem is, het ‘n besonderse landskap en is alom bekend vir sy lang geskiedenis van handel in wierook, mirre, goud en premium koffie. Nou is dit ‘n toonbeeld van tragedie en verwoesting.

Dit is agt jaar sedert die burgeroorlog in Jemen uitgebreek het. Dit het die reeds-verarmde nasie van meer as 31 miljoen mense in die wêreld se ergste humanitêre krisis gedompel. Maar Jemen verduur veel meer as net die ontberinge van die oorlog.

Die mense van Jemen ly al eeue lank onder hewige geestelike oorlogvoering en poog om die duisternis te onderdruk. Ten spyte van die onvermoeide en opofferende pogings van die Kerk, gelowiges en ook FEBA-vennote, is na skatting slegs ‘n paar duisend van die enorme bevolking volgelinge van Jesus Christus. Dit kan toegeskryf word daaraan dat die Jemenitiese kerke en ook enige getuie van Christus erg vervolg en onderdruk word. Baie Christene sukkel al hoe meer om te oorleef.

Dit is slegs die krag en genade van God wat die duisternis kan deurdring en die droë land oorstroom met die lewende water van Christus. Enige internasionale verligting wat in Jemen aankom, word dikwels deur Islamitiese noodlenigingsagentskappe versprei wat diskrimineer teen almal wat teen die Moslem-geloof gekant is. Afvalligheid van Islam word as ‘n ernstige misdaad beskou. Om Islam te verlaat om Christus te volg, lei dikwels daartoe dat  gesinne en gemeenskappe uitgedryf word, selfs tot die dood. Ten spyte van hierdie gevare en uitdagings, het plaaslike kerke tog gegroei en kom gelowiges en gemeenskappe in die geheim bymekaar om na radio-uitsendings te luister. Die radio’s het hulle van FEBA Jemen ontvang. Die groepe bid ook gereeld saam om die Here te dien.

As daar gevind word dat ‘n Jemenitiese individu tot die Christendom bekeer het, word dié persoon dikwels uit hul familie en gemeenskap verdryf. Hulle staar ook ‘n groot bedreiging in die gesig om doodgemaak of gemartel te word, of om tronkstraf opgelê te word. Hulle kan dit net ontkom as hulle hul geloof in Jesus Christus verloën, en dis iets wat nie dikwels gebeur nie.  Uit vrees vir wat die gevolge mag wees, kan die Jemenitiese gelowiges nie die Goeie Nuus of hul geloof in die openbaar verkondig nie.

‘n Luisteraar van FEBA Jemen het aan ons geskryf en die uitdagings met ons gedeel: “My naam is Abdu*. Ek woon in Jemen, en is ‘n volgeling van Jesus. Alhoewel die kerk in Jemen groei, moet dit nie geromantiseer word nie. Ek verstaan ​​dat daar soms berigte en stories uit vervolgde kerke kom wat sommiges tot die gevolgtrekking laat kom dat die Kerk hier groter, meer gelowig of meer volwaardig is as die ander. Baie van ons verduur egter vervolging, gevangenisstraf of marteling. Ten spyte daarvan loof ons God dat ons nie Sy Seun, Jesus Christus, verloën nie. Wanneer ons bymekaarkom om na jul uitsendings te luister, word ons bemoedig en met hoop vervul. Terselfdertyd treur ons egter oor die bedreiging wat baie van ons in die gesig staar as gevolg van ons geloofsoortuigings. Ons treur ook omdat die vervolging veroorsaak dat talle mense nie tot redding kom nie. Ons omstandighede is soms oorweldigend. Ek het gehoor van sommiges wat weier om enige ander mede-gelowige van ons land te ontmoet uit vrees dat hul geloof ontdek sal word en hulle dan deur hul eie families vermoor sal word. Ek verstaan ​​dit. Nie een van ons wil ly nie. Nie een van ons wil verraad ervaar nie.”

Die Here se oes in Jemen kom na baie jare van getroue bedieningswerk deur beide Jemenitiese gelowiges en FEBA se internasionale vennote. Dit sluit ook sendelinge in van wie baie hul lewens gegee het om evangelisasiewerk onwettig aldaar te doen en die mense van die land van Christus te vertel.

FEBA Jemen het dringend gebede nodig vir elke vervolgde en geheime gelowige. Jy kan by ons maandelikse gebedsketting inteken deur die skakel te volg: https://febaradio.co.za/prayer/.

Jy kan ook ‘n skenking maak om FEBA te help om die evangelie aan die mees onbereikte en vervolgde gemeenskappe te versprei deur op die skakel te klik – https://febaradio.co.za/donate/ .

*Die name van die mense wat hul getuienisse gedeel het, is om veiligheidsredes verander.

Tags :
Share This :

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4