Diensbaarheid verskaf vreugde

Op nuwejaarsdag het ek weer in 2 Konings 2 die stuk gelees waar Elia in die hemel opgeneem word. Een van die verse wat uitstaan, is vers 21: “Hy het uitgegaan na die plek waar die water uitkom en die sout daar ingegooi, met die woorde: ‘So sê die Here: Ek maak hierdie water bruikbaar sodat dit nie meer dood of onvrugbaarheid sal veroorsaak nie’”.

Dit blyk uit aanmerkings wat mense op sosiale media maak dat baie van hulle die Jaar 2021 byna as ‘n onvrugbare jaar beskou as gevolg van al die ontwrigtings en uitdagings wat die pandemie op ons pad gebring het. Baie het siek geword, en sommige het selfs gesterf vanweë COVID-19 of komplikasies daarvan. Duisende het ook hul werk verloor en dit was duidelik dat mense naarstigtelik met hoop na die nuwe jaar uitgesien het. Nou is ons in die nuwe jaar en my vraag is: “Wat nou? Watter spreekwoordelike sout kan ons byvoeg by 2022 en wat kan ons van die Here vra om ons weer bruikbaar en vrugbaar te maak vir Sy koninkryk?”

Daar is ‘n sekere boodskap van die Here wat sedert my bekering telkens na my toe terugkeer en wat ook by die lees van Konings 2 weer sterk in my gees na vore gekom het – dit is die noodsaaklikheid van herlewing. Die kritiese noodsaaklikheid dat God as’t ware weer sout sprinkel oor ons land (en hopelik ook in die res van die wêreld) wat ‘n kragtige geloofsvernuwing en gemeenskapstransformasie sal teweegbring. Baie sal met my saamstem dat die Suid-Afrika van vandag nie juis ‘n toonbeeld van hoop is nie, en die redes daarvoor kan nie net voor die deur van die pandemie en die regering van die dag gelê word nie. Onsself speel almal ‘n groot rol in die stand van sake wanneer ons negatiwiteit en hopeloosheid versprei deur ons woorde en gesindhede. Hierdie negatiwiteit oor alles maak baie van ons siek, “onvrugbaar” en onbruikbaar vir Sy diens.

Teen hierdie agtergrond wil ek graag ‘n boodskap van hoop bring: Ek glo dat die Here gaan ingryp, sy sout gaan sprinkel en ons toekoms gaan transformeer; maar ek glo ook dat Hy dit in Sý tyd gaan doen. Dit is jou en my taak om aan te hou bid dat die Here dit goed vind om in hierdie nuwe jaar met sy herlewingswerk te begin! Ek het reeds besluit dat dit voortaan deel gaan wees van my gebede; dat ons weer in hoop sal begin leef ter wille van ons land, al sy mense en ons eie nageslag.

Maar ek en jy moet gereed wees vir die transformasie, sodat ons kan meedoen en vrugbaar kan wees vir die Koninkryk. Wat kan ons doen om dinge meer leefbaar te maak terwyl ons op die Here wag om in te gryp soos net Hy kan? Vir my lê die antwoord daarin om sensitief, gehoorsaam en diensbaar te wees. Hierdie is nie opsioneel nie – dit is ‘n gegewe. Jesus sê in Matteus 25:40, “As julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het, selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir Mý gedoen”.

In die volgende paar Blogs gaan ek meer uitbrei op verskeie maniere waarop Christene gereed kan maak vir die toekoms. Vir nou wil ek afsluit met Efesiërs 2:10 wat ons daaraan herinner, “Ons is immers Sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.”

Tot volgende keer.

Dr Jurie Vermeulen

Nasionale Direkteur: FEBA SA

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4