In antwoord op ’n vraag oor die invloed van blindheid op sy bediening, het oorlede Victor K, stigter van FEBA Oekraïne en pa van hul huidige direkteur, gesê: “Een vreemde newe-effek van my blindheid is dat mense makliker teenoor my oopmaak. Ek doen elke jaar berading met honderde mense.”

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het meer as 2.2 miljard mense wêreldwyd die een of ander vorm van visuele gestremdheid. Sowat 80% van sigprobleme is voorkom- of geneesbaar, maar daarvoor is behoorlike en gereelde mediese sorg nodig. Dit is dus geen verrassing dat visuele gestremdheid meestal in lae-inkomste gemeenskappe voorkom nie. Slegs 10-15% van mense met gesiggestremdheid is volkome blind, maar in dié nuusbrief verwys die term “blind” na mense wie se visuele gestremdheid verhinder dat hulle druk- en visuele media met gemak kan benut.

’n Perfekte antwoord

Evangelisasie het tradisioneel staatgemaak op persoonlike interaksie en die uitdeel van Christelike lektuur. Maar, hoewel blinde mense in sommige lande ’n sendeling kon ontmoet, wat van dié wat in plekke soos die Sowjet-Unie of China gewoon het, waar sendelinge verbied was? En wat van Bybels of Bybelverwante lektuur? Selfs vandag is dit nog baie duur om media in braille te druk – dit kos sowat R3,200 om ’n Afrikaanse Bybel in braille te vervaardig – en weens ’n gebrek aan geleenthede leer ’n verbasende aantal blinde mense nooit eers braille lees nie.

Hiervoor is FEBA Radio die perfekte antwoord! FEBA se programme, wat per radio en aanlyn beskikbaar is, deel die Bybel en leer luisteraars om dit te interpreteer, en blinde of ongeletterde mense memoriseer gereeld die Bybelverse wat hulle hoor. Daar is ook programme vanuit ’n bybelse perspektief wat handel oor onderwerpe soos gesondheid, verhoudings en geestesgesondheid. ’n Blinde luisteraar uit China sê: “Ek het geleer om reg en verkeerd te onderskei en hoe om te bepaal of iets goed of sleg is. Ek het nooit skoolgegaan nie, maar tog het ek ’n goeie kwaliteit opvoeding van Radio Liangyou ontvang. God het my lewe geleidelik herskep.”

Tot God se eer

In Johannes 9:2-3 vra die dissipels vir Jesus: wie se sonde het ’n man se blindheid veroorsaak, syne of sy ouers s’n? Waarop Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.” In die konteks van hierdie skrifgedeelte verwys dit na die blinde man se genesing. Nietemin is dit ook van toepassing op mense wat lewenslank blind is. God kan kragtig deur hulle werk. Victor K is een voorbeeld: hy het FEBA Oekraïne gestig, maar vir 20 jaar voor dit het hy programme na Oekraïne (toe nog deel van die Sowjet-Unie) via kortgolf vanaf Saipan uitgesaai. Hy het ook ’n seun grootgemaak wat FEBA Oekraïne se groeiende bediening vandag deur ’n tyd van oorlog lei.

Tydens ’n onderhoud is die vraag aan Victor gestel: “Vra jy ooit vir God hoekom [jy jou sig verloor het]?” Waarop Victor toe antwoord: “Ek het die hoekom-vraag lankal ophou vra. Die wêreld is vol onverklaarbare lyding. Ons weet dat God goed is en dat Hy oppermagtig is – dis vir my genoeg. Die vraag wat ek elke dag moet antwoord, is: ‘Watter geleenthede is vandag tot my beskikking om vir Sy Koninkryk te gebruik?’”

Amen.

Totdat almal gehoor het,
Dr Jurie Vermeulen

Tags :
Share This :

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4