FEBA Indië Gebroke Vertroue, Reddende Genade

“Die Here is regverdig, Hy het die bande losgesny waarmee die goddeloses my gebind het.” (Psalm 129:4)

“Ek het daardie man vertrou – hy het deernis betoon en my ’n blink toekoms met ’n goed betaalde werk beloof,” sê Saachi*, ’n FEBA Indië-luisteraar wat uit mensehandel gered is. Sy leef in volslae armoede met haar man en twee kinders. Selfs alledaagse benodigdhede is moeilik om te bekom. Toe hierdie man opdaag met sy aanbod, was dit onweerstaanbaar – ’n kans om haar gesin te help.

Sy het in die lokval getrap. Toe hulle vir ’n paar dae nie van haar hoor nie, het haar bekommerde man onthou van ’n radioprogram wat hy gehoor het, en FEBA se hulplyn geskakel. Die span het onmiddellik met ’n anti-mensehandel organisasie kontak gemaak en die situasie aan die polisie gerapporteer. ’n Soektog is geloods en FEBA Indië het deurlopend ernstig gebid. God het geantwoord. Saachi is gevind. Sy was in prostitusie in verkoop. “Ek het alle hoop verloor en gedink ek sal nooit uit daardie hel kom of my kinders se gesigte weer sien nie.”

Die VSA se Departement van Buitelande Sake skat dat daar op enige gegewe tydstip meer as 27 miljoen mensehandel-slagoffers in die wêreld is. Volwassenes en kinders word ontvoer, gelok of aan misdadigers verkoop, wat hulle op enige van die volgende maniere uitbuit, soos deur die VN geïdentifiseer: uitbuitende bedelary, gedwonge huwelike, gedwonge misdadigheid (bv. diefstal-sindikate), prostitusie, dwangarbeid en die oes van organe. Handelaars aas op die kwesbares. Hulle nader die armes, soos Saachi, met beloftes van ’n beter lewe. Sommige bied aan om vir kinders se opvoeding te betaal – om sodoende ’n beter toekoms te verseker – en oortuig die ouers só om hul kinders te oorhandig. Die Guardian berig dat klimaatrampe in Wes-Bengalië, Indië, mense só behoeftig gelaat het dat hulle ideale teikens vir mensehandelaars geword het.

Mense word deur mensehandelaars se strikke uitgevang omdat hulle desperaat en oningelig is. In baie dele van die wêreld – onder andere Indië en Indonesië – werk FEBA téén mensehandel deur mense in te lig deur middel van hul programme. In Indonesië reis die span na klein dorpies om mense op te voed oor gevaartekens waarop hulle moet ag slaan, veral wanneer dit by hul kinders kom. Hulle werk word beloon…die span berig dat kinderhandel afneem.

FEBA Indië nooi kenners en prominente vroue om in hul dramas, onderhoude, gesels-programme, en tydskrif-styl programme te verskyn. Hulle benader die probleem holisties deur ’n verskeidenheid onderwerpe te bespreek, soos armoede en werkloosheid, seksisme, patriargie en mensehandel. Hulle reël ook bewusmakingsveldtogte, voorsien berading en volg op met luisteraars.

Te danke aan een so ’n program, kan Saachi sê: “Nou woon ek gelukkig saam met my gesin. My geluk en vryheid is slegs moontlik gemaak deur die program, wat my lewe gered het.”

Prys God vir Sy ingryping, en bid dat Hy vir Saachi en haar gesin sal genees. Bid ook dat Hy FEBA se programme wêreldwyd sal gebruik om mensehandel te voorkom en slagoffers te red.

 

*Naam verander vir veiligheid

 

Vir meer inligting oor FEBA, besoek gerus www.febaradio.co.za of kontak ons kantoor by 012 335 5708.

 

Totdat almal gehoor het,
Dr Jurie Vermeulen

 

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4