FEBA Tibet Om saad te saai sonder om op te gee

“Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.” (Galasiërs 6:9 Afr83)

“Ek hou daarvan om na jul radioprogramme oor verskillende onderwerpe soos gesondheid en die Tibettaanse wêreld te luister,” skryf Tenzin*, ’n Tibettaanse luisteraar wat deelneem aan FEBA se Gawelyon-projek. Hierdie uitreikprojek verkondig al vir 33 jaar die evangelie van Christus aan Tibettane binne Tibet, sowel as reg oor die wêreld aan die diaspora. “Ek geniet dit ook om na jul liedjies te luister, wat baie goed is. Hou vol met die werk wat julle doen.”


Tibet staan bekend as “die dak van die wêreld”. Sy pragtige landskap spog met reusagtige berge en plato’s wat so hoog is dat slegs Tibettane daar kan floreer, te danke aan ’n genetiese mutasie wat hulle in staat stel om gemaklik asem te haal by 4,500 meter bo seespieël. In die skadu van hierdie skoonheid is daar egter baie pyn. Honderde duisende Tibettane het al uit hul tuisland gevlug om politieke of ekonomiese redes, en vandag is daar sowat 6,5 miljoen Tibettane reg oor die wêreld versprei.


Die Gawelyon-projek gebruik kortgolfuitsendings om uit te reik na Tibettane en inwoners van die Himalaja-streek. Onderwerpe soos kos en voeding, voorkoming van siektes, omgewingsake, sanitasie en gesondheid word bespreek, asook die Christelike geloof. Die span saai weekliks drie 30-minuut programme in die taal van Sentraal-Tibet uit, en deel fisiese kopieë van Christelike en gesondheidsverwante lektuur aan mense uit. Hulle doen ook moeite om met luisteraars, van wie sommige in kampe woon, in verbinding te tree en hulle deur moeilike tye te ondersteun. Dwelmmisbruik onder die Tibettaanse jeug is toenemend ’n bron van kommer. Die Gawelyon-projek werk nóú saam met jongmense om vir hulle selfstandigheid aan te leer en met oordraagbare vaardighede toe te rus.


Dit is om verskeie redes ’n moeilike veld om te ploeg. Eerstens is Tibettaanse Boeddhisme diep in Tibettaanse kultuur verweef; tweedens bring China se teenwoordigheid baie van dieselfde inperkings wat Christene in China mee te doen kry; en derdens het Tibet se dekade-lange stryd vir onafhanklikheid baie van sy mense met diepgesetelde trauma gelaat. Dit kan dikwels moeilik wees vir FEBA se mense, wat saad moet saai sonder enige teken van groei vir lang tye. Daarom is dit vir hulle altyd bemoedigend om van luisteraars te hoor, en hoewel dit stadig mag voel, is daar groei: die span het in die afgelope jaar 75 nuwe kontakte by hul databasis gevoeg!


“Ons hou dit altyd in gedagte dat ons die Goeie Nuus met soveel as moontlik mense moet deel,” sê een van FEBA se spanlede, “sodat baie mense ons Redder, Jesus, mag leer ken en vertrou. Die saad wat ons plant is nie maklik nie, die grond is hard, maar ons word bemoedig deur die belofte dat die saad in God se tyd sal groei en vrug dra.”

Vir meer inligting oor FEBA, besoek gerus www.febaradio.co.za of kontak ons kantoor by 012 335 5708.

Totdat almal gehoor het,
Dr Jurie Vermeulen

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4