GOD IS VÍR ONS, WIE KAN DAN TEEN ONS WEES?

“Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?…Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?…Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom 8:31-39). 

In hierdie skrifgedeelte beskryf Paulus sy eie, sowel as sy medewerkers se daaglikse ervaring van weerstand, vervolging en swaarkry. Hulle was voortdurend geslaan, gespot en toegesluit. Verder moes hy en sy medewerkers ver reis, te voet oor dorre stofpaaie, rowers ontwyk, honger en dors ly en angswekkende storms op die oop see oorleef; alles in hul passie om die ewige evangelie van die opgestane Christus aan soveel mense moontlik te verkondig.

Alhoewel ons situasies vandag anders is as dié van Paulus en sy kollegas 2000 jaar gelede, kan dit nietemin vir ons voel asof ons wêreld besig is om skielik rondom ons te verkrummel. Met die huidige globale krisis wat deur die Covid-19 pandemie ontketen is, is alles in ons lewens skielik tot stilstand geruk! Ouers is besorg oor hul gesondheid en hul kinders, kinders is besorg oor hul akademie en eksamens, werknemers is uiters bekommerd oor die veiligheid van hul beroepe, kerke is gesluit, mense mag nie hul huise verlaat nie, sakemanne en vroue ly geweldige verliese omdat hul besighede gesluit is en baie word toenemend angstig oor hoe hul dit gaan bekostig om kos te koop en die huur te betaal. As ons op omstandighede fokus, het ons definitief genoegsame rede om neerslagtig, benoud en selfs wanhopig te raak met tye.

In diegene wat hul lewens tot dusver alleenlik probeer bou het op die tydelike fondasie van hierdie wêreld, soos die ekonomie, politiek en uiterlike godsdiens, moet wat tans gebeur ‘n absolute onhoudbare angs en wanhoop wek. Ons wat egter ons lewens baseer op geloof in God se Woord, weet dat dit wat Paulus hierbo skryf waar is – wat sal ons van die liefde van God skei? Swaarkry…lyding…siekte…finansiële druk? Nee, in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons die krag gee! Wanneer al die opsies wat die wêreld ons bied uitgeput is, en daar geen grashalms oorbly om na te gryp nie, bly net een waarheid oor: Geen krisis of krag in hierdie wêreld kan ons skei van die liefde van God in Christus nie!

Ons hier by FEBA Radio SA het besluit om nie ons energie te verspil deur te soek na water in dorre putte nie. “Nee, ons wil die dinge soek wat daarbo is, waar Christus sit aan die regterhand van God” (Kol 3:1,2). En ons wil u ook aanmoedig, kosbare FEBA-vennoot om daagliks saam met ons u gedagtes te fokus op God, te volhard in jou vertroue in Hom; te bly fokus op sy prioriteite vir hierdie wêreld – Covid-19 en al! Daar is vele geleenthede, selfs in hierdie tyd, want mense het tot stilstand gekom, het baie meer tyd om na boodskappe te luister wat hul lewens kan verander; hulle het nou die geleentheid om hul lewens en hul prioriteite in balans te kry. Ons merk op dat mense wêreldwyd na God begin soek in hierdie krisistyd, wanneer hul lewens bedreig word en die wêreld se oplossings nie meer werk nie, word mense meer ontvanklik vir goeie raad. ‘n Uitstekende voorbeeld is die 40% styging in response (op na 1.8 Miljoen) op ons Chinese uitsendings vanuit Hong Kong en China, net in Maart alleen!

In die FEBA-wêreld het ons tans meer geleenthede en meer oop deure as ooit tevore en leer ons ook nuwe vaardighede aan wat ons heelwat meer effektief gaan maak in die toekoms. Ook kerke en bedienings gaan deur ongekende, vreesaanjaende stroomversnellings; kom ons bid vir mekaar dat hierdie krisis ons almal sal help om weer opnuut die kern van ons lewens en van die bediening te ontdek – Christus in ons, ons hoop op heerlikheid (Kol 1:27)! Profeet Daniel van ouds het wyse woorde vir ons in hierdie tyd: “Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre” (Dan 12:3).

Liewe FEBA-vennoot, hierdie seisoen roep ons op tot aksie, kom ons versterk onsself weer in ons allerheiligste geloof; kom wy onsself opnuut toe aan mekaar, aan ons naaste en aan die hoë roeping wat God aan ons elkeen toevertrou het – om die Goeie Nuus te verkondig en dissipels te maak van al die nasies (Mat 28:18-20). Weet asb. dat ons as ‘n span ook getrou vir elkeen van julle bid. Voel vry om ons te kontak via foon of epos indien jy met ons wil gesels of net saam wil bid.

 

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4