Hoe verander mosterdsaad geloof ons gebede? (Deel 5)

In die vorige blog het ons na 4 tipes geloof gekyk en gesien dat dit wat ons “geloof” noem, nie noodwendig ware geloof is nie. Die 4 tipes geloof was, (1) ongegronde opinies en oortuigings, (2) ‘n algemene vermoede of hoop, (3) reddende geloof en (4) mosterdsaad geloof. In hierdie blog wil ons kyk hoe mosterdsaad geloof ons gebedslewe sal verander. In Mt. 6 leer Jesus sy dissipels hoe om te bid: v5, “Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle…bid sodat die mense hulle kan sien…6  Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe…en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” Die eerste eienskap van ware gebed is dat dit in die geheim plaasvind – dis tussen die bidder en die Vader. Daar’s geen sug na erkenning wanneer ‘n gebed verhoor word nie.

In 6:7 openbaar Jesus die tweede eienskap: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.” Ons almal moes al die bittereinders verduur wat net nie by “amen” kan uitkom nie; die verhoogkunstenaars wat ons op ’n geestelike kragtoer wil neem met hul vindingryke beelde en analogieë, indrukwekkende woordeskat, mini preke, uitnodigings tot oorgawe, oorverdowende volumes, swaaiende arms en uitsprake van groot geloof en kragdadigheid. Volgens Jesus is dit doodgewoon ’n mors van asem, tyd en energie.

Die derde eienskap in v8 is die rede hiervoor, “…want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.” Wat ’n antiklimaks, ons doen dan al hierdie moeite om God aan te spoor tot aksie! Wat is dan die doel van gebed? Wel, eenheid met God, geestelike gemeenskap, die harmoniëring van my begeertes en gedagtes met God s’n, asook geestelike groei, om ‘n paar te noem. Jy sien, mense wat mosterdsaad geloof, of geloof sonder twyfel het, bid nie om God te oortuig nie, hulle bid om hul eie wil met die van God te sinkroniseer; om God se wil te onderskei in sake en dan in eenheid saam met Hom te dink, te voel en te werk. Dis hoe Jesus gebid het in Joh. 11:41, 42 “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

En dit bring ons by die vierde eienskap wat ek wil noem; mosterdsaad geloof-gebede word oorheers deur die woordjie, “dankie.” Geloof sonder twyfel is oortuig dat God reeds weet, klaar gehoor het en lankal kragtig werk; vandaar Jesus se, “Ek dank U…” Dis ook wat Jesus bedoel het in Mk, 11:24 Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.Paulus moedig ons aan om dieselfde te doen in Fil. 4:6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.    

Mosterdsaad geloof-gebed het ophou kners, kerm en kla – dit sê, “dankie”! Ek vertrou dat jy hierdie geloofsreis sover saam met my geniet het.

 

Mag God jou ryklik seën.

Dr Jurie Vermeulen

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4