Hoop in ‘n wêreld wat brand!

“My familie is weg. O God, my familie het gesterf, my ondersteuning en krag het gesterf. 13 het hemel toe gegaan,” Al-Halabi, ‘n treurende vader.

Die roukrete van moeders, vaders en kinders het weergalm deur die ruïnes nadat die verwoestende aardbewing, wat 7.8 op die Richterskaal gemeet het, dieTurkye-Sirië grensstreek op 6 Februarie 2023 getref het. Volgens UNICEF was dit die kragtigste aardbewing wat die streek die afgelope 100 jaar getref het. Tyd is besig om uit te loop vir die duisende kinders, vrouens en families wat steeds onder die puin vasgevang is.

Die dodetal is tans 34 179 in beide lande, maar styg steeds teen ‘n kommerwekkende tempo namate reddingspanne meer liggame van die duisende ineengestorte geboue herwin. Die reaksiespanne werk onvermoeid voort sedert die aardbewing die gebied getref het, maar die swak ekonomiese toestande het ‘n negatiewe uitwerking op hulle werk. In Sirië word reddingspogings verder in die wiele gery in die rebelle-beheerde gebiede in die noorde van die land.

Die lewering van noodsaaklike voorrade aan die geaffekteerde gebiede in Noord-Sirië word bemoeilik deur die langdurige burgeroorlog tussen opposisiemagte en die Siriese regering. Die oorlog word gelei deur president Bashar al-Assad wat daarvan beskuldig word dat hy sy eie mense vermoor het. Rusland, wat Assad se regime steun, het voorheen goedkeuring vir nog ‘n hulproete na Sirië afgekeur.

Dit is ook bykans ‘n jaar sedert Rusland se eerste bomme op Kiev, Oekraïne, neergestort het en die vrede verpletter het, en daar is steeds geen einde in sig nie. Die span van FEBA Oekraïne het sedert die begin van die oorlog bly voortgaan om boodskappe van hoop uit te saai en luisteraars op hoogte te hou van die nuwe verwikkelinge, selfs terwyl sommige in bomskuilings weggekruip het. Sommige van die spanlede het verkies om in die middelpunt van die oorlog agter te bly en die boodskap van die liefde van Jesus Christus uit te saai.

Maar God was getrou deur Sy belofte na te kom om skoonheid uit die as te laat gedy, want uit die verwoesting is nuwe lewe gebore. Pastoor Sergey, wat die Oekraïense span lei, het kos uitgedeel en die Goeie Nuus verkondig aan diegene wat deur die bomaanvalle geraak is.

Dit is in die mees desperate tye dat mense na God roep en Hy het sekerlik nie sy volk verlaat nie. ‘n Totaal van 50 000 gebedsboekies is onder die publiek versprei en oudiobybels is aan soldate op die gevegslyn uitgedeel. Daarby het die span drie nuwe radiostasies ingewy wat te midde van die oorlog gestig is.  Hierdie stasies seën luisteraars daagliks deur FM-radio, sosiale media en ook deur direkte bediening.

“Ons is moeg, maar terselfdertyd kan ons ervaar hoe miljoene mense Jesus as hul Verlosser ontvang… Ons het nie elektrisiteit en lig nie, maar ons het die lig van Jesus Christus, en ons behoort meer te skyn in hierdie donker tye,” het Igor met ons gedeel.

“Dit is die hoogtepunt van ons werk,” het pastoor Sergey met vreugde verklaar.

Alhoewel dit voorkom  asof die wêreld aan die brand is, sit God steeds op die troon en is Hy getrou om beskerming te bied aan diegene wat aan Hom behoort. Ons bid dat meer mense Jesus Christus as hulle Here en Verlosser sal ontvang in hierdie onsekere tye.

‘n Spesiale woord van meegevoel gaan uit na Direkteur Eduard. Sy neef, Slavik, het vroeër hierdie week gegradueer na die belofte om die hemel binne te gaan. Hy het onlangs in ‘n bomaanval omgekom terwyl hy gereis het om hulp te gaan verleen aan behoeftiges. Hy laat ‘n vrou en kind agter.

FEBA bedank u vir die volgehoue ​​skenkings en getroue gebede wat beide ons FEBA en FEBC-bedienings aan die gang hou. As u ‘n skenking wil maak wat iemand na Jesus Christus kan lei, klik op die skakel: https://febaradio.co.za/skenk/?lang=afr

 

 

Tags :
Share This :

One Response

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4