Is jý ook ‘n sendeling?

Ek het vroeër vanjaar begin om die tema van diensbaarheid uit te lig en daarop gewys dat daar baie maniere is waarop Christene diensbaar aan God kan wees. Ek het ook bietjie gefokus op die diensbaarheid van die albasterflesvrou van die Bybel. Hierdie maand plaas ek die soeklig op sendelinge en sendingaktiwiteite.

“Apostolos” is die Griekse woord in die nuwe Testament wat soms met “apostel” vertaal word, maar eintlik bloot “gestuurde” beteken. Daarom dat ons van “sendelinge” praat; mense wat uitgestuur word om die evangelie te verkondig aan die nasies. Sendingwerk is een van die oudste vorme van diensbare werk, en Apostel Paulus word algemeen beskou as die eerste sendeling wat na ander lande en kultuurgroepe gereis het om die evangelie te versprei. Hy was verseker nie ‘n foutlose mens nie. Paulus van Tarsus was dan die een wat voor sy bekering die Christene doelgerig vervolg en vermoor het, en baie het hom nooit daarvoor vergewe nie. Paulus se sendingwerk het begin toe hy in Antiochië met sy prediking onder die heidene begin het, waarna ‘n Goddelike bevel hom opdrag gegee het om die evangelie ook in ander lande te gaan verkondig. Oorblyfsels van die kerke wat Paulus in sy tyd gestig het, kan nog gesien word in Turkye (voorheen Klein-Asië).

God gebruik nie volmaakte mense wanneer Hy hulle ‘n opdrag gee nie. God gebruik eenvoudige mense met foute, maar met ‘n gewillige hart en ‘n liefde vir mense. Sendingwerk was al in die Bybelse tyd ‘n algemene verskynsel en Jesus self het vir ons die beste voorbeeld gestel.

Ons vind die belangrikste opdrag in dié verband in Matteus 28:19-20, die sogenaamde “Groot Opdrag”: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels, doop hulle in die Naam van die Vader, en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het”. Omdat ons hierdie teks nie in die Griekse taal kan lees nie, word dit dikwels verkeerd verstaan. Daar is vier belangrike werkwoorde in hierdie teksgedeelte: “gaan”, “maak dissipels”, “doop”, en “leer”. Almal behalwe “maak dissipels” is werkwoorde wat dui op ‘n aksie wat jy uitvoer terwyl jy met iets anders besig is – amper sekondêre werkwoorde. Sulke werkwoorde is nie noodwendig die hoofgedagte in die sin nie. Dit beteken dat die oorblywende ‘normale’ werkwoord, “maak dissipels”, die mees prominente of sentrale gedagte van die groot opdrag is. Die maak van dissipels gebeur terwyl ons rondgaan (insluitend die nasies), en sluit ook in dat mense gedoop word en alles geleer word wat nodig is om uiteindelik soos volwasse dissipels te leef.

Tradisioneel het ons gefokus op “gaan” in die teks, wat ons onder die wanindruk gebring het dat sendingwerk net regtig plaasvind as jy bereid is om te gaan na verafgeleë plekke soos die Amasone of eksotiese Afrika. Hierdie interpretasie help ons egter om te verstaan dat die hoofdoel van sendingwerk die maak van volwasse dissipels is wat plaasvind terwyl ons gaan, leer en doop. Ware sendelinge is dus nie net mense wat hul lewens in gevaar te stel om diensbaar te wees soos baie van die historiese sendelinge inderdaad gedoen het nie. Dis ook nie net predikante, ouderlinge en diakens nie. Nee, elke gelowige is ‘n sendeling en elkeen het die taak om sendingwerk onder ongelowiges te doen – om die evangelie te verkondig en dissipels te maak daar in jou eie omgewing. Die groot opdrag sluit ook in die gebeds- en finansiële ondersteuning van organisasies wat sendingwerk onder ander nasies doen.

FEBA Suid-Afrika werk saam met FEBC Internasionaal om die evangelie te verkondig in die mees onbereikte lande en om te help om mense se lewens te verander. Jy kan ons vennoot word deur by ons projekte betrokke te raak en om ander te vertel van die werk wat ons doen. FEBA/FEBC het ‘n diensrekord van meer as 76 jaar en die miljoene terugvoerings wat jaarliks vanoor die hele wêreld ontvang word, wys onteenseglik daarop dat ons wel ‘n groot verskil maak.

Sendingwerk verander ‘n mens se lewe. Indien jy nie kan saamgaan op ‘n sending nie, kan jy steeds op ‘n spesiale manier uitreik en deel word van die belangrike werk. Jy kan dit moontlik maak vir iemand anders om te gaan, of suksesvolle uitreike finansieel ondersteun. Ons nooi jou vriendelik uit om ons sendingwerk te ondersteun. As jy wil help om ons hande te versterk, besoek gerus ons webwerf www.febaradio.co.za om meer inligting oor ons bediening te ontdek en hartroerende getuienisse te lees.

Vriendelike groete tot volgende keer.

Dr Jurie Vermeulen

National Director: FEBA Radio SA

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4