Lesse Uit Die Wildernis

Geliefde FEBA-ondersteuner,

‘n Bekende lewensafrigter, Tony Robbins, het eenkeer ‘n bejaarde Dale Carnegie gevra wat sy grootste persoonlike deurbraak in die lewe was. Carnegie was bekend vir sy boek, Hoe om vriende te wen en mense te beïnvloed (How to win friends and influence people).  Sonder om tweekeer te dink, het hy geantwoord dat dit was toe hy geleer het hoe om meer positief oor probleme te dink. Die meeste mense dink dat iets verskriklik skeefgeloop het wanneer probleme opduik en dat hulle glad nie probleme behoort te hê nie. Maar, sonder die uitdagings van die lewe sal ons nooit in sterk, veerkragtige individue ontwikkel nie. Dit is van wesenlike belang vir sukses om hierdie ingesteldheid aan te leer en om die oënskynlik onoorkomelike uitdagings van die lewe te omhels.

Teen hierdie agtergrond wil ek graag verwys na hoe Dawid se woestynervarings hom voorberei het om die toekomstige koning van Israel te word. Hy het die grootste deel van sy jeug in die woestyn deurgebring om sy vader se kuddes te versorg. Hy moes jare later weer vir drie jaar in die woestyne van Judea rondswerf terwyl hy voortdurend moes vlug om Koning Saul se meedoënlose pogings om hom dood te maak, te ontduik.

Dawid het waardevolle vaardighede aangeleer gedurende sy vroeë jare as herder in die woestyn. Hy het dit later gebruik toe hy koning geword het. Hy het as herder van verantwoordelikheid geleer. Hy het geleer hoe om sy kuddes te lei en te versorg, en hy het van liefde en omgee vir andere geleer. Hy het ook geleer van geduld, deursettingsvermoë en nederigheid. Daar is immers niks glansryk daaraan om ‘n herder te wees nie!

Dawid het ook ontelbare ure daaraan bestee om sy vegvaardighede te slyp en sy akkuraatheid met sy slinger en klippe te oefen, totdat hy enige lewende wese verskeie meters van hom af kon doodmaak. Hy het ongetwyfeld ook vaardig geword met die swaard, spies asook die pyl-en-boog. Dit was die algemene wapens van daardie tyd. Sy vaardighede is uitermate getoets. Om ‘n leeu, beer en enige ander wilde dier met daardie primitiewe wapens dood te maak, het inderdaad groot moed geverg (1 Sam. 17:34-37)!

As ons die Psalms lees, besef ons dat dit die tyd in die woestyn was wat sy verhouding met God ontwikkel het. Dit was daar waar hy heeltemal alleen – omring deur sy skape, die wolklose lug asook die omgewing van dorre woestynrotse – dat hy sy harp opgeneem en geleer het om God met sy hart te aanbid. En so het hy ‘die man na God se hart’ geword (Hand 13:22)!

Dit is duidelik dat Dawid se jeugjare al die belangrike aspekte van sy karakter ontwikkel het wat nodig was om koning te word. Die wilderniservarings van sy jeug het hom voorberei om Goliat (1 Sam. 17), daardie reuse-Filistynse kampioen kryger, te verslaan en in roem gekatapulteer te word. Ons lees, “Hulle het gedans, hulle het gesing: ‘Saul het sy duisende verslaan, en Dawid sy tienduisende.’” (1 Sam 18:7). Dit was nie heeltemal tot voordeel van ‘n jong tiener se sielkundige ontwikkeling om dít te aanskou nie!

Maar Dawid se woestynervarings het nie daar geëindig nie. Baie jare later is hy teruggedwing na die woestyne van Judea om te vlug van die moorddadige, jaloerse Koning Saul. Hy het in klowe, grotte en selfs saam met die geswore vyande van Israel, die Filistyne, gewoon. Gedurende daardie tyd moes Dawid die pyn van bespotting, verwerping en die haat van sy mense trotseer. Voortdurende oorlog, honger, dors en swaarkry was deel van sy lewe gedurende daardie tyd. Dit was hier waar God vir Dawid baie lesse geleer het, veral die vermoë om met mense saam te werk. Die lesse wat geleer is terwyl hy skape gelei het, was toe op mense toegepas. David moes nou vaardighede soos leierskap, diplomasie, konflikoplossing, onderhandelings, motivering en generaalskap bemeester – dit wil sê, wysheid. Dit was gedurende  sy volwasse jare dat Dawid geleer het om God se tydsberekening en Sy prosesse in sy lewe te waardeer. Hy het geweet dat hy koning sou word, maar het God vertrou om dit te láát gebeur. Hy het so ‘n respek vir God se wil ontwikkel dat hy by ten minste twee geleenthede botweg geweier het om Saul dood te maak. Dit is nou ‘n man vir wie God kan vertrou. Dit spreek van karakter!

Dawid se eerste woestynervaring het hom geleer om skape te lei; ‘n vaardigheid en vertroue in sy wapens te ontwikkel en die moed om dit te gebruik; asook die basiese beginsels van geloof in God. Sy tweede ervaring het sy vermoë ontwikkel om mense te lei; om oorlog te voer; en, hy het die kuns van diplomasie geleer. Die moeilikste les van alles was dat hy moes leer om te wag vir God se perfekte tyd om Sy beloftes tot vervulling te bring. Dit is belangrik om dít uit Dawid se lewe in die woestyn te leer: God het nie van buite af toegekyk, aantekeninge gemaak en Dawid se optrede klinies geëvalueer  nie. Nee, Hy was saam met Dawid in die woestyn en het hom aangemoedig, versterk en voorberei vir sy toekomstige grootsheid.

Die grootste waarheid wat ons in al ons woestynomswerwinge moet leer, is baie eenvoudig – dit is absolute oorgawe wat gemanifesteer word as onwrikbare vertroue in ‘n onfeilbare God. Wat sou van Dawid geword het as dit nie was vir die woestyn, Goliat en die moorddadige Koning Saul nie? Sonder hierdie groot uitdagings sou hy inderdaad ‘n heel ander man gewees het. Hoe groter die uitdaging, hoe groter die beloning.

As Dawid net ‘n normale Filistynse soldaat verslaan het, sou niemand oor sy oorwinnings gedans en gesing het nie. Maar, omdat hy ‘n angswekkende reus verslaan het, was sy beloning proporsioneel groot. Laat ons moed skep terwyl ons Dawid se grafiese verhaal lees. Laat ons leer om alles aan God oor te gee en getroue, veerkragtige, moedige, nederige manne en vroue van geloof te word wat werklik op God vertrou. Laat ons vertrou in Sy goedheid, wysheid, beskerming, tydsberekening en voorsiening in ons lewens – maak nie saak hoe donker ons omgewing of hoe reusagtig ons teëstanders is nie!

“Nadat hy Saul verwyder het, het hy Dawid hulle koning gemaak. God het oor hom getuig: ‘Ek het Dawid, seun van Isai gevind – ‘n man na my hart; hy sal alles doen wat Ek wil hê hy moet doen.” (Hand 13:22).


Mag God jou ryklik seën.

Dr Jurie Vermeulen

Tags :
Share This :

One Response

  1. Dankie dr Jurie.

    Absoluut opbouend en geestelik verrykkend hierdie aanvullende kennis kortliks mooi saamgevat oor koning Dawid die man na God se hart. Sy absolute nederigheid en oorgegewe lewe aan sy God spreek boekdele. Hy moes ook n baie sterk man gewees het om n leeu te kon doodmaak met die wapens tot sy beskikking en sy God.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4