Maslow en die Here se Gebed

deur Liezl Durie

Het die wêreld heeltemal mal geword? Dis die refrein wat deur my gedagtes gaan wanneer ek nuusopskrifte sien. Hier trou ’n man met ’n krokodil as deel van een of ander ritueel; daar word die wêreld se kleinste handsakkie vir meer as $60,000 verkoop (mikroskoop ingesluit, want daarsonder is die sakkie onsigbaar vir die blote oog). Dis nou buiten die dinge wat mense aan mekaar doen, die uiterstes waartoe hulle gaan om aandag te kry, die goed wat hulle sal doen om geld te maak. Wat maak dat mense so optree?

Hiërargie van menslike motivering

Op skool het ons geleer van Maslow se piramide:

Hierdie sogenaamde hiërargie van behoeftes, meen Maslow, is die dryfkrag agter menslike gedrag. As iemand honger is, maak/koop/steel hy kos; as iemand vriendskap soek, knoop sy ’n gesprek aan of verleen hulp. In teorie is dit eenvoudig: solank ’n mens seker maak jou behoeftes word vervul, sal jy gelukkig wees en uiteindelik jou volle potensiaal bereik.

So wat is die probleem? Die probleem is dat geen mens te alle tye, ten volle weet wat hulle doen, of heeltemal beheer oor ’n situasie het nie. Ek kan iemand liefhê, maar ek kan hom/haar nie forseer om my terug lief te hê nie. Ek kan so moeg wees dat ek siek voel, maar as my koliekbaba skree, kan daar nie geslaap word nie. Ek kan getrou werk, maar ek kan nie keer dat my pos in die slag bly wanneer die maatskappy moet herstruktureer nie. In ’n poging om in beheer te bly van my lewe, om my behoeftes te probeer vervul, hardloop ek só rond dat ek myself uiteindelik vasdraai in ’n net van uitbranding.

Volgens die WGO se data, ly sowat 280 miljoen mense wêreldwyd aan depressie. Meer as 700,000 mense neem elke jaar hul lewens, en vir elke suksesvolle poging is daar 20 of meer onsuksesvolle pogings. Dis duidelik dat ons as mens nie gekwalifiseerd is om ons eie behoeftes te vervul nie. So hoe nou gemaak?

Die weg, die waarheid en die lewe

Jesus gee ons die antwoord in Matteus 6. Hy leer die dissipels om te bid en gee vir hulle (en ons) die “Onse Vader”, wat Maslow se volle piramide dek:              

                Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

                laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde

                geskied, net soos in die hemel. —–> [selfverwesenliking]

              Gee ons vandag ons daaglikse brood; —–> [fisiologies/basiese behoeftes]         

              en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié ——-> [liefde/aanvaarding]

              vergewe wat teen ons oortree;  ——–> [selfbeeld – vergifnis verg selfrespek en waardigheid]

              en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. —> [veiligheid] 

Die gebed dek die hele piramide, want God, as liefdevolle Vader, sorg vir die hele piramide. In Matt. 6:32 (Afr83) sê Jesus immers: “Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.” Daarom kan ons met die intrapslag die leisels aan Hom oorgee, deur te sê: “Laat U wil geskied.” Ons hoef nie in beheer te wees nie, want God is in beheer.

As God se kind (Rom. 8:17) kan ek dus in die wêreld wees sonder om van die wêreld te wees. My gedrag word nie gemotiveer deur my behoeftes nie, maar deur die Een wat in my behoeftes voorsien.

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4