‘n Blitsige Afrika Sendingervaring

Verlede maand is ons span op ‘n blitstoer deur Mosambiek en Malawi om luisteraars te besoek, hul stories te dokumenteer, en te sien wat ons Afrika-spanne onder die minste bereikte groepe in dié lande verrig.

Ons Nasionale Direkteur, Dr Jurie Vermeulen, is vergesel deur ons skrywer Gerda Potgieter, Pastoor Geo de Kock en kameraman Kaunda. Hul eerste bestemming was Blantyre, Malawi, waar Litala FM geleë is. Blantyre staan bekend as die industriële hoofstad van Malawi, terwyl Lilongwe beskou word as die wetgewende hoofstad. Meeste Malawiërs leef in uiterse armoede en hul grootste uitdaging is ‘n gebrek aan kos en befondsing. Die deurlopende devaluasie van hul geldeenheid oor die afgelope paar maande het dinge nog verder vererger.

Ons span het verskeie luisteraarsklubs in afgeleë gebiede besoek. Die paaie na dié gemeenskappe is in slegte toestand en word verder beskadig deur erge weer. Sommige dorpe kan slegs per 4×4 bereik word en dan neem dit soms heeldag om daar te kom. Ons span in Malawi ry hierdie paaie gereeld en graag om nuwe bekeerlinge te besoek en sodoende te bemoedig, ondersteun en voor te bid. ‘n Groot deel van FEBA Malawi se bediening word gewy aan opvolg-bediening en dis een van die redes waarom hul luisteraarklubs aanhou floreer en groei. FEBA Malawi se Direkteur, Eerw. Amos Phiri, reis gedurig op dié slegte paaie, selfs in gure weer, om luisteraars te bereik.

Balaka is een van die eerste dorpies wat deur ons Suid-Afrikaanse span besoek is. Die dorp spog met agt luisteraarsklubs wat almal vinnig groei. Een van die klubs is in die Sawali area. Die klub het in 2010 begin met gebedsbyeenkomste en in 2011 het hulle ‘n kerk geplant. Pastoor Andrew Patrick Munama en sy vrou, Cecilia, is verantwoordelik vir die klein gemeente.

Vier kerke het al vanuit Balaka se luisteraarsklubs ontstaan en agt Christen-sentrums is gevestig. Ons span het die voorreg gehad om ‘n diens by te woon in een van die baksteen kerkies. Die pastoor se vrou besoek elke Dinsdag die gemeente se vroue en bejaardes om hulle aan te moedig in hul geestelike en sosiale groei. Sy lei ook die vrouekoor. Die gemeente hou elke Sondag ‘n diens en Pastoor Andrew stap gereeld tussen 15 en 20 kilometer om sy gemeentelede te besoek.

Gerda, wat die diens ook bygewoon het, het beleef hoe ‘n klomp mense hul harte vir die Here gee. “Ons het gesien hoe sestien nuwe bekeerlinge – mans, vrouens en kinders – gedoop word, en ons moes ‘n lang ent stap na die naaste dam.”

Die span het ook die Ntcheu-gemeenskap, wat gelei word deur ‘n vrou, besoek. Daar is drie luisteraarklubs in die omgewing. Die leier het Dr Jurie gevra om ‘n kort boodskap te lewer en vir die klein gemeenskap te bid. ‘ n Groep kinders het dinge van ‘n afstand af dopgehou en gevra dat die span vir hulle ook bid. Nog ‘n noemenswaardige deel van die besoek is toe die span langs die pad moes stop om ‘n groepie nuwe bekeerlinge te ontmoet. Moses, Nicolas, Lasiyatu en Martha, van die dorpie Irushi, het die span ingewag langs die pad naby Chiponde Chionde. Hulle wou Dr Jurie persoonlik ontmoet sodat hy vir hulle kon bid. Hulle kon die span egter nie in die dorpie in nooi nie, aangesien hulle deur ander inwoners vervolg word. Hulle kon die span egter nie in die dorpie in nooi nie, aangesien hulle deur ander inwoners vervolg word. Nicolas se huis en al sy besittings is reeds na sy bekering vernietig. Omrede meeste van die inwoners Moslems is, ervaar Christene strawwe teenstand en in ekstreme gevalle word hulle selfs doodgemaak.

Op die tweede been van die toer is ons span na Mosambiek. Soos baie ander lande in Afrika, het Mosambiek pragtige natuurskoon en baie natuurlike hulpbronne, met verskillende kulture en ‘n tropiese klimaat. Die land se onstuimige verlede maak dit egter onmoontlik vir sy mense om die land se natuurlike voordele te geniet.

Die land het nog nie ‘n stabiele en gediversifiseerde ekonomie ontwikkel nie en sowat 70% van die bevolking leef in uiterse armoede. Ongeveer twee derdes van die +- 31 miljoen mense woon en werk in landelike gebiede en die minste bereikte gemeenskappe onder hulle is FEBA se teikengehoor. As mens na ‘n kaart van Mosambiek kyk, is dit moeilik om ‘n begrip te vorm van die oënskynlik nimmereindigende aantal dorpies wat in elke hoekie en skeurtjie van die land versteek is. Vir ‘n buitestander mag dit lyk na chaos, maar dis hoe die mense leef en kinders grootmaak.

Ons span het tyd deurgebring by FOT Radio FM in Lichinga, waar hulle die span ontmoet het. Die Mosambiek-span het reeds 1200 luisteraarklubs in die distrik help vestig. FOT staan vir Fountain of Truth en Direkteur Bright Sonjera is in beheer van al 6 stasies en 50 satelliet-sentrums. Dié radiostasies is nie slegs vir eenrigting-kommunikasie nie; daar is ‘n verskeidenheid programme en inbelprogramme wat luisteraars in staat stel om saam met omroepers te werk en die program te beïnvloed.

Die stasie self is toegerus met ‘n vergaderingskamer en ateljees met mikrofone, rekenaars, en ander toerusting wat nodig is vir die werk. Bright is ‘n vasvatter en blyk min te slaap. Hy sê dat hy 24/7 werk omdat hy baie radiostasies het om na om te sien en hy nie een van hulle in die steek wil laat nie.

Radio FOT werk nou met die regering saam om boodskappe aan die gemeenskappe oor te dra en sodoende die mense te help om die regering beter te verstaan. Te danke hieraan is daar oor tyd ‘n sterk band tussen die staat en die radiostasie gesmee. Die gevolg van dié verhouding is twee stukke grond wat deur die regering aan die stasie toegestaan is. Die grond word nou gebruik om mielies en boontjies te verbou as voedsel vir die gemeenskap. Dit dien ook as ‘n bron van inkomste vir die plaaslike weduwees. In ‘n land waar werk skaars is, gee hierdie “plaas” vir die werkers ‘n mate van trots en doelgerigtheid, asook genoegsame inkomste om hul kinders te voed.

Nog ‘n aspek van die bediening in Mosambiek wat vrug dra, is hul werk onder die jeug. Die stasie bied ‘n jeugprogram aan wat in samewerking met jong luisteraars vervaardig word. Naby die einde van ons span se verblyf in Mosambiek het twee broers, Mustafa en Santo Massipuca, kom navraag doen oor die volgende program. Die jeugprogram, “My Future”, fokus op jeugontwikkeling en kwessies soos dwelmverslawing, en die aanbieder bespreek onderwerpe soos tienerswangerskap openlik.

“Ons besoek was kort en ons dae volgepak, maar dit was vol sielsverrykende ervarings,” sê Gerda. “Een les wat ek geleer het, is om klagtes opsy te skuif en op te hou kerm gedurende swaar tye. Die mense in dié lande leef in moeilike omstandighede, maar hulle verheug hulself in God se seëninge.” Hierdie terugvoer som basies ons bediening in Malawi en Mosambiek op. God doen wonderbaarlike werk deur ons spanne in Afrika. Hy bring herstel aan soveel lewens en bring Sy mense om Hom bymekaar. En om te dink dit het als begin met iets so eenvoudig dog so kragtig soos ‘n radio.

 

Tags :
Share This :

2 Responses

  1. Ons aanbid die Enigste ware God. Hy is die begin en voleinder van elke saak wat in Sy Naam begin is. Daarom wil ek net teenoor God Drie-Enig my dank uitspreek vir Feba Radio se volgehoue bediening aan die minsbereikte nasie groepe. Ek eer God vir elke getroue medewerker. Hetsy deur voorbidding, as donateur of fisiese veldwerker. Die goeie werk wat God deur FEBA Radio begin het, sal Hy voleindig, tot op die dag dat Jesus ons kom haal. “U is waardig om geloof en geprys te word. Dankie, dankie 3x Heilige God vir U Liefde, Genade en Trou. Ons bid vir die bewaring van elkeen van U kinders wêreldwyd. Bring asb ń groter bewustheid van Jesus Christus se volkome vryspraak vir elkeen wat in geloof Hom aanneem as Verlosser en Saligmaker tot U eer en verheerliking. Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4