Ontdek God in Kirgisië

Ontdek God in Kirgisië

Om God te ontdek in ‘n oorwegend Islamitiese land is vir die meeste mense geen maklike taak nie. In ‘n wêreld waar harte koud geword het, is dit maklik om hoop en uitsig op enigiets goeds te verloor. FEBC Kirgisië is besig om dit vir baie mense te verander en hul hoop te herstel. Gesinsbande word herstel, en mense gee hul harte aan Christus en ervaar transformerende krag in hul lewens. \Wat ons werklik verras, is dat toestande wat hopeloos en onherstelbaar lyk, op een of ander manier ‘n dramatiese omdraai maak sodra mense na ons programme begin luister en by ‘n plaaslike kerk aansluit.

Christenskap is relatief nuut vir die mense van Kirgisië. Die vroegste kerke het eers in die 1990s ontstaan. Die liggaam van gelowiges in die land word beskou as ‘n ‘eerste-generasie kerk’. Tot ‘n sekere mate het FEBC Kirgisië ‘n groot rol om te speel om ‘n grondslag vir die toekoms van Christendom aldaar te lê.

Ulanbek, die Direkteur van FEBC Kirgisië, was 18 jaar oud toe hy die evangelie vir die eerste keer as ‘n jong Moslem gehoor het. Nadat God sy hart radikaal verander het, droom hy nou daarvan om die evangelie in Mekka by die Hadj te verkondig. Hy is die leier van ‘n dinamiese jong span uitsaaiers in Kirgisië wat elke dag die evangelie met miljoene luisteraars regoor die land deel. Hul doel is om hul radiobediening na Oesbekistan uit te brei. Hulle maak ook gebruik van digitale platforms soos YouTube, TikTok, Instagram en Facebook om meer mense met die Goeie Nuus te bereik. Vanjaar is hul doelwit om 10 000 mense met hul inhoud op alle digitale platforms te bereik.

Kirgisië verwelkom alle godsdienste en laat sy burgers toe om hul gekose geloof vrylik te beoefen. Ongeveer 90% van die land hou egter by Islam. Nuwe Christene, en die Christelike gemeenskap in die algemeen, staar baie uitdagings in die gesig en word dikwels deur hul eie familielede vervolg.

FEBC Kirgisië het nie weens die pandemie gesluit nie – ook nie te midde van die vele uitdagings wat hulle in die gesig gestaar het met die politieke onstabiliteit in die land nie.

“Ons probeer ons Bybelse waardes en invloede deur ons programme en uitsendings aan die samelewing oordra; en ons glo dat ons werk nodig en belangrik is,”verduidelik een van die bestuurders.

Ses radiostasies deel die waarheid van God se woord met meer as een miljoen luisteraars deur hul uitsendings regoor die land. Zukhra, ‘n kleinsake-eienaar, woon in ‘n klein dorpie in Kirgisië en het onlangs kontak gemaak met een van FEBC se stasies om haar storie met die span te deel.

Sy vertel, “Ek het besluit om jou te skakel, omdat jy gepraat het oor wat ek nodig het … en dit is hoop. Niemand praat deesdae oor sulke dinge nie. Met al my sukses as sakevrou het ek te make met ‘n man wat ‘n alkoholis is en ‘n seun wat onlangs selfmoord probeer pleeg het.”

Ons span in Kirgisië het Zukhra by haar huis gaan besoek, Christelike lektuur vir haar geneem en met haar oor die evangelie gepraat. Zukhra besoek die afgelope paar maande die kerk in ‘n nabygeleë dorpie, en haar seun het ook nou Jesus Christus as sy Here en Verlosser aangeneem.

Daar is soveel verhale van luisteraars wat moeilike omstandighede ervaar het en deur hul blootstelling aan ons uitsendings ‘n algehele ommekeer in hul lewens gesien het. Soos hierdie 28-jarige dame wat na ons span in Kirgisië uitgereik en gesê het:

“Ek bid nou al ’n paar jaar gereeld, selfs vyf keer per dag. My ouers en naaste familie hou streng by die Islamitiese geloof. Ek het die Koran en verskeie Hadiths gereeld gelees, maar ek het nog nooit van God se liefde gehoor soos jy dit op die radio aanbied nie. Ek wil graag kerk toe gaan en ’n Christen word, maar ek is bang om my geloof te verander. Help my – wat moet ek doen?”

Ons span het die jong dame gekontak en die evangelie van Jesus Christus met haar gedeel. Sy het elke woord met trane aanvaar en gevra om ‘n student te word. Mag die Here haar wysheid gee om Christus se lig binne haar uitgebreide familie te word.

FEBC Kirgisië saai die evangelie vir vier-en-twintig uur per dag uit deur ‘n netwerk van ses FM-stasies, terwyl dit slegs 10 jaar gelede met een stasie in Bisjkek begin het. Programinhoud wat aangebied word, wissel van daaglikse aktuele geselsprogramme tot plaaslike nuus en gebeure. Tussendeur die programme word inspirerende musiek vir ses ure uitgesaai. Mense van alle ouderdomme, sosio-ekonomiese status en opvoedkundige agtergronde luister na hierdie programme.

Een van die programme wat hulle aanbied, is ‘n geselsprogram wat deur twee Christenvroue aangebied word, genaamd “Ashar” (Wedersydse ondersteuning). Albei uitsaaiers het ook opleiding in sielkunde. Hulle luister na die probleme van luisteraars, ontleed dit en gee praktiese raad.

Een van hul ander gewilde programme is “Apalar Maktebi” (School of Mothers). In hierdie program deel hulle wenke om kinders groot te maak. Die gasheer fokus daarop om inligting te deel oor hoe om te sorg vir kinders se emosionele, morele en geestelike opvoeding.

Hierdie en ander programme is ‘n geleentheid om Bybelse beginsels oor te dra en bied aan luisteraars ‘n geleentheid om te reageer op God wat in hul lewens praat. Oor die afgelope jaar het ons vennootbediening, FEBC Kirgisië, meer as ‘n halfmiljoen oproepe, briewe en ander tipes kommunikasie ontvang. Hierdie getalle spreek boekdele, en God ontvang al die eer vir die siele wat daagliks by Sy koninkryk gevoeg word.

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4