Radiogolwe van Hoop Deurdring die Oorlogswolke in Oekraïne

“War,” sing Edwin Starr, “it’s an enemy to all mankind.” Die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne woed al vir langer as 15 maande. Dit maak amok met die wêreldekonomie en wek vrees in mense se harte.

‘n Nege-jaar lange Konflik

As jy kyk na Reuters se statistieke van die konflik, wat reeds in Februarie 2014 begin het, skets hulle ‘n donker prentjie:

  • +- 62,000 sterftes
  • +- 60,000 beseer
  • +- 15,000 vermis
  • +- 17 miljoen ontworteldes
  • sowat US$411 miljard se skade aan infrastruktuur.

Dis maklik om hoop te verloor. Tog sê die Bybel die duisternis kon die lig nie uitdoof nie (Johannes 1:5). Jesus het die dood oorwin (Openbaring 1:18). FEBA Oekraïne werk daaraan om hierdie goeie nuus te versprei, en hul bediening hou net aan groei.

Twee Weg, Drie By

In Februarie 2022 het FEBA Oekraïne sewe radiostasies reg oor die land gehad. Twee is beskadig of oorgeneem – een in die Luhansk-streek, die ander in Mar’inka – en baie van die personeel moes hul wonings ontruim. In plaas van opgee, maak FEBA Oekraïne toe nog drie stasies oop.

Die eerste is in Zaporizhzhia, naby die kernkragstasie. “Dié radiostasie ontvang die meeste terugvoer van luisteraars,” sê Dennis Akhterov, korrespondent vir FEBA Oekraïne. “Mense is bang vir wat kan gebeur.” En toe hét daar inderdaad iets gebeur…die Nova Kakhovka-dam het op 6 Junie ineengestort en talle dorpe is oorstroom. Duisende mense moes dringend hul huise ontruim. Die dam voorsien water aan die Zaporizhzhia-kernstasie om die kernreaktor af te koel. Ons bid dat God die kernstasie en die mense sal bewaar, en dat ons span by die Zaporizhzhia-radiostasie die wysheid sal hê om te weet hóé om luisteraars by te staan.

Die tweede stasie is in Kiëf – ‘n wonderwerk te danke aan die oorlog! Dennis sê: “Ons het ‘n tydelike lisensie ontvang as gevolg van die oorlog. Dis al lank ons droom om ‘n stasie in Kiëf te hê, maar dit was eenvoudig buite ons bereik.” Die stasie kan tot vyf miljoen luisteraars in en om Kiëf bereik.

Nou werk die span by FEBA Oekraïne daaraan om by Ivano-Frankivsk ‘n derde stasie aan die gang te kry. Hulle werk tans met kernpersoneel, want baie aanbieders is in die buiteland. En almal is al deur die geweld geraak.

Elke lid van FEBA Oekraïne het tot dusver iemand verloor, hetsy dit familie, ‘n vriend of ‘n pastoor is. Vadim, ‘n vrywilliger-kapelaan van Mykolaivka, wat saam met FEBA gewerk het om radio’s en kontakkaartjies uit te deel, is einde 2022 dood. Die kontakkaartjies het die nommer vir FEBA Oekraïne se beradingslyn – nóg ‘n deel van hul bediening wat aanhou groei.

Om Hoop te Deel

“Ons bedien vanuit daardie plek waar lyding reg langs ons is,” sê Victor Akhterov, direkteur van FEBA Eurasië. “Ons hoor hul stemme en ervaar hul pyn wanneer ons die liefde van Jesus met hulle deel.” Hulle het onlangs ‘n aanlyn teks-gebaseerde beradingslyn geopen. Dis veral gewild onder jongmense, wat verkies om hul vrese en behoeftes só te deel. Die telefoniese hulplyn het met vyf opgeleide Christen-beraders begin; nou is daar meer as 30. Die behoefte neem toe en elke dag bring hartbrekende stories en moeilike vrae.

Een so ‘n oproep was van ‘n jong man, Konstantin. Hy het gebel nadat sy pa, broer en meisie in ‘n stad naby hom dood is.

“Ek kan nie slaap vandat ek dit gehoor het nie,” het hy gesê. “Ek het selfs my polse probeer sny. Ek’s heeltemal alleen.” Die res van sy familie woon elders en hy kon net elke drie dae met hulle in aanraking kom. Terwyl die FEBA Oekraïne beraders vir Konstantin van God se liefde vertel het, het hy bedaar en gesê: “Dis asof ek weer die grond onder my voete kan voel.” Hy was verras en opgewonde om te hoor dat hy self tot God kan bid, net wanneer hy wil en in sy eie woorde! Hy het die beraders bedank vir hul hulp. “Julle is die enigstes wat my oproep beantwoord het.”

Die Lig skyn in die duisternis. Ons dien ‘n wonderbaarlike God!

U kan n verskil maak en ‘n lig in iemand se lewe wees deur die skakel te volg: https://febaradio.co.za/donate/

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4