The times they are a-changing

deur Dr Jurie Vermeulen

Hierdie bekende woorde, vir die eerste keer in 1964 deur Bob Dylan gesing, bly in 2024 meer relevant as ooit. Vir dié van ons in die media-bediening is ‘n begrip van die tyd waarin ons leef en ‘n afwagting op die toekoms, kritiese vaardighede as ons relevant wil bly in die wêreld wat ons deur ons radio-uitsendings help vorm. Daar staan immers geskryf: “Iemand is wys wanneer hy die lewe wil verstaan” (Spreuke 14:8 Die Boodskap).

Om insig in die toekoms te hê, hou groot voordeel in. Dink aan Daniël, wat roem en reuse invloed verwerf het bloot omdat hy koning Nebukadnesar se droom van die groot standbeeld wat die toekoms openbaar, kon uitlê (Dan. 2). Josef in Egipte is nog ‘n duidelike illustrasie van hoe waardevol so ‘n gawe en vaardigheid is. ‘n Vriend van my het sagteware-kode geskryf om handel dryf op finansiële platforms te outomatiseer. Deur sy kode aan te pas om slegs 5 minute in die toekoms in te kyk – terwyl dit deurlopend teen historiese data getoets word – het sy program binne ‘n oogwink reusagtige wins gemaak! Dit illustreer net die potensiële voordeel daaraan verbonde om insig in die toekoms te hê en “die tye te verstaan”, soos die Issaskar-stam, “die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan” (1 Kron. 12:32 Afr83). Jim Hinojosa skryf dat die wêreld op ‘n baan van “hyperchange” is, maar wat presies moet ons probeer verstaan en verwag?

Kunsmatige Intelligensie

Ons begin met hierdie element omdat dit soveel van die wêreld se “hyperchange” dryf. Kenners meen dat ons teen die jaar 2100 nie net 76 jaar se veranderings sou beleef het van vandag af nie, maar duisende jare, vergeleke met die huidige tempo. Stapsgewyse vooruitgang in tegnologie – die ontdekking van vuur, die ontwikkeling van die wiel, papier, die drukpers, stoomenjins, vliegtuie, rekenaars, of die internet – lei altyd tot kwantum spronge in sosiale verandering, m.a.w. “hyperchange”. Die beperkte kunsmatige intelligensie (KI) wat ons tans gebruik, het reeds tot reuse deurbrake in verskeie velde gelei. Een van die mediese wêreld se heilige grale – die vermoë om 200 miljoen verskillende proteïen-vou prosesse in biologiese selle te verstaan – is blitsvinnig deur die DeepMind algoritme opgelos. Dis net een voorbeeld van ‘n mediese deurbraak wat vantevore onmoontlik geag is. Binnekort gaan meer gesofistikeerde KI-algoritmes, spesifiek aangepas vir ons as individue, nog meer impak op ons lewens hê. As ons denkleiers soos Elon Musk, Sam Altman en Yuval Harari kan glo, is ons op die punt van nog ‘n kwantum sprong, met KI en later KAI (Kunsmatige Algemene Intelligensie) wat op die wêreld losgelaat gaan word. KAI kan in iets meer outonoom ontaard en sy pad in elke hoekie van ons lewens in kodeer. Maar moenie paniekerig raak nie. Dis te maklik om in die lokval van katastrofiese denke te trap.

Soos hierbo gesinspeel is, bring KI baie voordele. Hoewel die werksplek gaan verander en sommige poste verdwyn omdat hulle deur KI oorgeneem word (dink aan kodering en robotika), sal nuwe poste ontstaan waarin mense onvervangbaar is. Dis belangrik om te verstaan dat werknemers wat KI gebruik, die plek sal neem van dié wat dit nie doen nie. Dieselfde geld vir maatskappye, want “slim” maatskappye gaan “dom” maatskappye spoedig uit die mark druk. Strategie gaan minder te doen hê met beplanning en meer met die vermoë om beter as jou kompetisie te presteer. Dit is waar KI sal uitblink – dit sal maatskappye op die voorpunt plaas met doeltreffendheid, impak en wins – baie soos die voordeel wat Josef se wysheid vir Egipte gegee het, of Daniël s’n vir Babilon sowat 2,700 jaar gelede. Ons moet eenvoudig onsself posisioneer om elke nuwe geleentheid wat oor ons pad kom, ten volle te benut.

Menslike Kuborge en Genetiese Mutante

Elke mens wat een van die 8 miljard aktiewe slimfone op ons planeet gebruik, is reeds digitaal versterk. As tegnologie-maatskappye hulle sin kry, kan slimfoonfunksies deel word van baie mense se anatomie – moontlik binne die volgende vyf tot tien jaar – deur direk met ons breine verbind te word deur ‘n brein-rekenaar koppeling (interface). Neuralink in die VSA is een van ‘n klompie maatskappye wat reeds menslike proewe doen. Mense met dié koppelings sal die internet kan gebruik met soekresultate wat regstreeks op hul retinas verskyn. Genetiese modifikasie kan die mensdom ook laat ontaard as dit nie streng gereguleer word nie.

Politiek

Futuriste stem ooreen dat die dae van relatiewe politieke kalmte wat WW2 gevolg het, verby is. Soos ons nader aan die 2030s beweeg, sal ons toenemende globale polarisasie met verskillende alliansies sien: Westelike-, Asiese-, Oostelike-, Arabiese- en Suidelike alliansies. Dit gaan nie waterdigte verdelings wees nie, maar vloeibaar en oorvleuelend, met lande wat verdragte sluit en verlaat soos dit hulle bevoordeel. Politieke polarisasie, spanning en verdeeldheid sal na verwagting vermeerder, wat tot nog meer oorloë binne die volgende dekade sal lei en moontlik op die groot een sal uitloop … waarna die wêreld dalk gereed sal wees om ‘n indrukwekkende politieke “redder” te aanvaar wat oënskynlike vrede en voorspoed inlei. Byna volkome beheer van al die wêreld se stelsels kan moontlik raak met 6G, wat eksponensieël vinniger is as ons huidige 5G, en waarskynlik teen 2030 kommersieël beskikbaar sal wees. En, ongelukkig, voorsien kenners ook dat nog pandemies ons reeds geteisterde wêreldbevolking in die toekoms gaan tref.   

Finansies

Fisiese geld – die dollar, pond, euro en ander fiat-geld – sal na verwagting in die volgende tien jaar uitgefaseer word. Kripto- en digitale geldeenhede sal hulle vervang en alle wêreldhandel en transaksies sal digitaal geskied. Omdat banke en regerings tans die meeste voordeel trek uit die status quo, sal hulle waarskynlik veg om beheer van die globale geldvloei te behou, wat ‘n tyd van finansiële onstabiliteit tot gevolg kan hê totdat dinge in plek val. Of ons nou saamstem of nie, glo miljoene Christene dat hierdie verwikkelinge die weg baan vir Openbaring 13:17 om vervul te word: “…sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het” (Afr53). Ons sal gou genoeg sien.

“It was the best of times, it was the worst of times…

…it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, …” Hierdie bekende aanhaling waarmee Charles Dickens se 1859 verhaal, A Tale of Two Cities, begin is steeds waar. Tydens ‘n besoek aan Istanboel was ek gefassineer deur die feit dat die konings van die antieke tyd se reusagtige kastele en forte in puin lê, terwyl een van die oudste staande strukture, die Hagia Sophia-kerk, wat in die vierde eeu nC deur Konstantyn die Grote begin is, nog steeds in al sy glorie staan. Dit laat mens dink aan Daniël se interpretasie van koning Nebukadnesar se droom oor die standbeeld: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk vestig wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan – net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het” (Dan. 2:44-45 Afr53).

Alles in ag genome gaan dinge waarskynlik nie gou beter raak nie. Dis waarom NOU die beste tyd is om die evangelie te verkondig. Jesus waarsku dat oorloë, aardbewings en allerhande rampe altyd met ons sal wees (Matt. 24), maar so ook die evangelie van Christus! Ons moenie moed verloor nie. Al die vooruitgang in KI en konnektiwiteit sal ongekende geleenthede bied om die evangelie meer effektief en kragtig, aan meer mense, in meer tale en lande, met nuwe tegnologie te deel. Mense gaan toenemend oorweldig en verward voel, op soek na betekenis in hul lewens, wat die deur vir Christus sal oopmaak. Die ewigdurende evangelie sal altyd ‘n baken van Hoop wees, ‘n Lig wat harte met Lewe, krag en helderheid vul. Dit sal die magtige Christelike bewegings en herlewings van die toekoms inlui.

Hoewel tradisionele radio-uitsendings op sommige plekke minder prominent sal word, sal evangelisasie deur middel van die internet, regstreekse uitsendings, sosiale media en ander kanale floreer. Die manier waarop ons die Goeie Nuus lewer mag dalk drasties verander in die volgende dekade, soos wat KI, “virtual reality”, brein-rekenaar koppelings en holografiese projeksie meer algemeen raak, maar die lewensveranderende krag van die evangelie bly gister, vandag en in alle ewigheid dieselfde!

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4