Verras deur liefde

Jare gelede het ek ‘n baie kort, helder droom gehad. Ek droom dat ’n vriend na my toe kom met ’n direkte boodskap van God: “Jurie, jy moet nooit daaraan twyfel dat jy baie spesiaal is en dat ek jou baie liefhet nie.” Ek het wakker geskrik en gewonder wat die droom sou beteken. Hoekom is ek so spesiaal en geliefd dat die Here dit nodig sou ag om die boodskap op so ‘n direkte manier aan my oor te dra? Ek het jare daaroor loop en wonder, tot ek eendag besef het: alle mense is spesiaal en geliefd! God het nie witbroodjies nie. Ons is almal so uitermate geliefd en spesiaal omdat Hy ons elkeen persoonlik geskep het – presies soos Hy ons wou hê, na sy beeld en gelykenis. Ons is afbeeldings van Hom, verteenwoordigers van Homself hier op die aarde.

In die ewigheid, millennia voordat ons gebore was, het elkeen van ons begin as ’n gedagte van liefde in God se gemoed. Hy het ons persoonlik uitgedink, ontwerp, en toe die tyd aanbreek, kunstig aanmekaar geweef in die moederskoot! Bishop Brannon sê dit goed: “We were loved into being.” Elkeen lyk fisies presies soos ons beplan is, insluitend ons temperamente, persoonlikhede, talente, gawes en vermoëns. Elkeen van ons is gebore op presies die regte tyd wat God bestem het met die gedagte dat ons, net soos Dawid van ouds, God se plan en doelwitte in ons generasie sal vervul (Hand. 13:36).

God het jou liefgehad met ‘n brandende passie lank voordat jy een goeie daad in jou lewe gedoen het – nog lank voordat jy gebore is en in Hom kon glo! Dis presies wat Paulus skryf in Rom. 5 vers 8: “Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Ook Johannes, die apostel van liefde, beaam dit: “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Joh. 4:19).

Johannes 3:16 sê: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het…” Ons verdraai dit egter in ons denke dat dit eerder beteken: “Want so gefrustreerd en raadop was God met die wêreld (met ons), dat hy sy eniggebore Seun gestuur het…” Daar is ’n lewensveranderende en bevrydende waarheid wat elkeen op aarde veronderstel is om te ontdek: God het elkeen van ons onvoorwaardelik lief, met sy hele hart – asof elkeen van ons die enigste mens op aarde is! God se liefde is skokkend vreemd; hoe kan Hy onvolmaakte mense soos ons onvoorwaardelik passievol liefhê? Die Engelse woordeboek definieer “unconditional” soos volg: “without conditions or limitations.” God se onvoorwaardelike liefde is die oorsprong van alles en ons ganse lewens is bloot ons antwoord daarop.

Hoe groot is hierdie onvoorwaardelike liefde? Luister na Jesus waar Hy tot sy Vader bid: “Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet” (Joh. 17:23). Anders gestel, die Vader het elkeen van ons lief net soos Hy Jesus liefhet – dieselfde liefde wat die Drie-eenheid saambind, verbind ons aan God. Laat dít insink! Mense wat naby-doodse ervarings beleef het, getuig byna sonder uitsondering hoe hulle onkant gevang is deur die absolute oorweldigende en onbeskryflike liefde wat hulle in die geestelike dimensie ervaar het. Meeste van hulle ly aan skok en depressie vir lang tye wanneer hulle afgesny word daarvan en weer moet probeer leef in hierdie gebroke wêreld.

Jy is veel meer werd as wat jy dink. Enigiets is mos soveel werd as die prys wat daarvoor betaal is. Jy is gekoop met die kosbare bloed van die Lam … met God se eie lewe (1 Pet. 1:19)! Iemand het geskryf: “as ons liefde van ’n engel wegneem, bly daar ’n demoon oor, maar wanneer ons liefde van God wegneem, bly daar niks oor nie, want God is liefde.” Johannes verwoord dit soos volg: “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.” (1 Joh. 4:8).

Hoe weet ons wanneer ons God se liefde begin verstaan? Wanneer ons begin veilig voel by God. Dis skokkend, maar waar – ons kerke is vol van Christene wat glad nie veilig voel by God nie. Hulle voel onwaardig, veroordeeld en skuldig. Hulle dien God meestal uit vrees vir die hel. Dit terwyl die waarheid nie méér die teenoorgestelde kan wees nie. Johannes skryf: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie” (1 Joh. 4:18).

Hierdie onvoorwaardelik passievolle liefde van God word grafies geïllustreer in Jesus se gelykenis van die verlore seun, wat daarop aangedring het dat sy pa vir hom sy erflating gee nog voordat sy pa dood was. Sy pa het in sy pad gestaan na ‘n lewe van plesier. Met sy dade het hy eintlik gesê: “Hoekom lewe jy nog steeds? Ek wens jy was dood sodat ek my lewe kan geniet met dit waarvoor jy jou lewe lank geswoeg het.” Wat ‘n verwende, ondankbare skepsel – hy kort eintlik ‘n taai klap! In Engels praat ons van “entitled.”

In Lukas 15 beskryf Jesus hoe die pa toegee en die seun alles uitmors op wyn, vroue en plesier, totdat hy in vodde as varkwagter smag om net die varkpeule te kan eet. Ons ken die verhaal: hy kom tot sy sinne en besluit om terug te gaan, te smeek vir vergifnis, en om net tussen sy pa se slawe te mag bly en te werk vir die res van sy misrabele lewe. Jesus teken egter vir ons ‘n ongekende, skokkende prentjie van God die Vader se onvoorwaardelike liefde: “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. 21 Toe sê die seun vir hom: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.’ 22 Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ‘n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! 23 En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! 24 Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry’” (Lukas 15: 20-24).

Die pa (God) sien die seun van ver af aankom, want hy het gestaan en wag vir die klein nikswerd! Verder luister hy nie eers na die wegloopkind se storie nie, hy ignoreer dit volkome en gee dadelik opdragte om sy seun in al die voorregte as deel van sy familie te herstel. Hier is baie stof tot nadenke.

Die waarheid dat God onvoorwaardelike, passievolle liefde is, maak dit vir jou en my moontlik om sonder vrees te leef. Dit maak ons vry van alle minderwaardigheid, twyfel en vrees. Nooit weer kan jy twyfel wanneer jy bid nie, of kan jy twyfel dat jy deel van God is nie. Wanneer jy uiteindelik besef dat jy so geliefd en bekend is in die hemel dat jy werklik veilig kan voel by God, kan jy nooit weer dieselfde wees nie. Moenie jou kort tydjie hier op aarde mors deur te twyfel aan God se liefde vir jou nie!

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4