Volharding in vervolging

“Ons godsdiensleiers het ons baie bang gemaak daarvoor dat as ons ‘n enkele gebed mis, dit ons in die hel sal laat beland. Terwyl ek na FEBA-uitsendings luister, het ek opgemerk dat God voorgestel word as ‘n God van liefde, genade en vergifnis. Die uitsendings het dit ook benadruk dat geloof in Jesus, asook om die regte dinge doen, die enigste weg na die hemel is. Ek het al ‘n paar kerkdienste bygewoon en opgemerk dat Christene gelukkig lyk en ‘n innerlike vrede ervaar. Help my asseblief om ‘n besluit te neem om die regte pad te vind.” Dit was die woorde van een van ons luisteraars van Pakistan.

Daar is ‘n totaal van 828 onbereikbare mensegroepe in Pakistan. Ongeveer 821 van hierdie groepe, of 99,1% van die totale bevolking, sal waarskynlik hul hele lewe deurgaan sonder om ‘n geleentheid gebied te word om Christus te leer ken; of om meer te weet van die liefde, vrede en hoop wat Hy vir hulle gekoop het. Dit is nie maklik om ‘n Christen in Pakistan te wees nie. Diegene wat dit oorweeg om hul lewens aan Christus toe te vertrou, betaal ‘n baie hoë prys daarvoor. Sommiges word deur familielede verwerp, terwyl andere blootgestel word aan gewelddadige aanvalle of mishandelings. Om in Pakistan jou lewe aan Christus toe te wy, is ‘n sensitiewe saak en moet subtiel en in geheimhouding hanteer word. Die FEBA-span in Pakistan help nuwe gelowiges deur die uitdagende proses en verskaf leiding tydens die nuwe reis met Jesus.

Pakistan se omstrede wette oor godslastering is ‘n sterk motiverende faktor in aanvalle op plekke van aanbidding en woongebiede. In Januarie is een van die pastore wat met FEBA se bediening in Pakistan geassosieer word, wreed deur terroriste vermoor. Hy het in die noorde van die land diens gedoen, en is op pad terug huis toe deur terroriste aangeval na ‘n Sondagdiens. Sy junior pastoor is erg beseer en in ‘n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem. Daar is ‘n aansienlike toename van godsdienstige onverdraagsaamheid, haat en fanatisme in die land. Dit maak dit uiters gevaarlik vir Christene om openlik hul geloof te beoefen. Vrees oorheers hulle keuses, maar tog is hulle gretig om die God van die Christendom te leer ken.

‘n Luisteraar het sy ervaring gedeel: “Die Uncle Qasim Program het my gehelp om die misverstande oor Christenskap uit te klaar. Dit het my gemotiveer om na te dink oor my huidige geloof. Ek het begin om die Heilige Bybel te bestudeer en gereeld na FEBA-programme te luister om meer oor die leerstellings en persoonlikheid van Jesus Christus te leer.”

Die radio bied die perfekte geleentheid vir mense wie se lewens bedreig word as gevolg van hul geloof, om te groei en nader aan God te beweeg sonder die voortdurende vrees om uitgevang te word. FEBA se aanlyn radiobedienings, sosiale media en mobiele toepassings bied luisteraars die geleentheid om teen hul eie pas en in privaatheid te leer. Die verskeidenheid van evangelieboodskappe, aanbiddingsmusiek, leringe en ander Christelike media verryk die ervaring. Die span is ook altyd gereed om enige vrae te beantwoord; of om nuwe gelowiges in die regte rigting te lei indien hulle die volgende stap wil neem om ‘n kerk by te woon.

Pakistan is hoofsaaklik ‘n Islamitiese land en Christene en Hindoes maak slegs sowat 1,6% van die totale bevolking uit. Die getal Christene groei egter geleidelik namate meer kerke geplant word. Die meeste Christene woon in Karachi en daar is ook groot bevolkingsgroepe in stede soos Lahore en Faisalabad.

 

 

 

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4