WAT IS JOU ROEPING?

Alhoewel Ou-Testamentiese Abraham sy roeping voltooi het, was dit ver van foutloos. Verrassend genoeg het God hom vir sy poging vereer, deur vir hom die titel “die vader van geloof” te gee. Hoe moet ons dit verstaan?

Wel, roeping het meer te make met God se plan as die mens se onfeilbaarheid. Natuurlik strewe ons na volmaaktheid, maar die mens kan natuurlik nie daaraan voldoen nie. Dit gaan eerder om die motiewe van die hart. Intensie kan volmaak wees, al is die aksies nie volmaak nie.

Jesus het sy dissipels uitgenooi (wat die kern van ‘n roeping is) om Hom te volg en “vissers van mense te word”. Dit is ‘n uitnodiging waarmee ek myself vroeg in my lewe vereenselwig het. Ek het by FEBA aangesluit, omdat ek my roeping om die evangelie van Jesus Christus te verkondig kan uitleef en nuwe betekenis gee. Die organisasie se missie om die evangelie te verkondig aan die mees vervolgde, afgesonderde en onbereikte volke in die wêreld het by implikasie nuwe dimensie aan my roeping gebied. Sedert ek aangestel is in die pos as nasionale direkteur vir die Suid-Afrikaanse deel van die internasionale organisasie FEBC enkele jare gelede, het ek verskeie hoogtepunte beleef. Ek het nou ook die voorreg om lande te besoek wat ek nie noodwendig andersins sou besoek het nie. So het ek in Oktober vanjaar Niger besoek met die doel om te gaan kyk wat die behoefte is, en die moontlikheid om ‘n Christelike radiobediening daar op die been te bring.

Niger is ‘n onbekende land vir die meeste mense, en was tot nou toe vir my ook ’n vreemdeling. Die land het sy naam verkry van die Nigerrivier en dit grens aan Libië, Tsjaad, Nigerië, Benin, Burkina, Faso, en Mali.

‘n Enorme 99.3% van die land se bevolking is Moslem-aanhangers. Die bevolking van 22 Miljoen mense praat verskeie etniese tale, maar Frans is die amptelike taal. Die meeste bly in klein gemeenskappies in die verre suid en westelike dele van die land. Niamey is die hoofstad, en is geleë in die suidwestelike hoek.

Daar is ‘n groot behoefte aan die evangelie in Niger en FEBA het ‘n ongelooflike geleentheid om ‘n nuwe stasie in die hart van die land te vestig. Daar is net sowat 0,4% Christene in die land, wat ongeveer 50 000 – 100 000 individue verteenwoordig.

Wat is die verband tussen die roeping van ‘n individu en missie van ‘n organisasie, kan u tereg vra? Die punt wat ek wil maak, is dat wanneer ‘n roeping jou dryf, moet jy alle omstandighede in ag neem om seker te maak dat jy suksesvol gaan wees in dit waartoe God jou geroep het. Vir baie mense is evangelisasie ‘n roeping, maar nie almal is noodwendig suksesvol nie, en almal verstaan nie heeltemal wat die uitdagings is wat oorkom moet word nie. Grondige navorsing en deeglike voorbereiding is nodig as ons suksesvol wil wees.

Evangelisasie in Niger is reeds sedert 1923 deur Amerikaanse sendelinge begin, maar min sukses is behaal tot hede. Sommige is van mening dat westerse sendelinge die jong kerk in Niger van die begin af verswak en verdeel het deur dit te vestig langs denominasielyne en dogmas. Nog redes sluit in die gebrek aan fokus op opleiding van etniese leiers; ‘n versuim om te evangeliseer vanuit ‘n Islamitiese oogpunt; en ‘n gebrek aan visie om Moslems te bereik.

Teen hierdie agtergrond het FEBA Suid-Afrika ‘n baie belangrike rol om te speel en ‘n groot taak om te verrig. Ek sien in die haglike omstandighede van die land en sy mense genoeg rede om die visie van FEBA verder te vergroot om Niger in te sluit, en steeds aan my eie roeping getrou te bly. Ek het reeds my navorsing gedoen en die bal aan die rol gesit om ‘n radiostasie funksioneel te kry. Die teikendatum is vroeg aanstaande jaar, 2022. Die aanvanklike koste beloop tussen R150 000 en R200 000; maar ek weet reeds Hy sal ook in hierdie behoefte voorsien, omdat Hy ons geroep het om die taak van evangelisasie onder die mees onbereikte lande te vervul.

En wat is jou roeping? Miskien is dit om die evangelie van Jesus Christus te help uitdra. Dan is ‘n gevestigde organisasie soos FEBA Suid-Afrika met sy lang lys van suksesverhale die ideale voertuig om jou eie roeping te help verwesenlik. Ek het groot waardering vir ons ondersteuners, ons borge en ons donateurs, want sonder hulle sal ons nie in staat wees om ons roeping tot uitvoer te bring en die missie van FEBA te realiseer nie.

Dankie vir die ondersteuning en dankie vir jou gebede.

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4