20 luisteraarsklubs het hul ontstaan te danke aan ‘n jong vrou wat gemartel is vir haar geloof

“Hulle (die klublede) word nie negatief deur die omstandighede beïnvloed nie, aangesien die betrokke voorval daartoe bygedra het dat húlle ook die waarheid kon vind – die waarheid wat net in Jesus alleen gevind kan word. Dit is daarom dat baie mense die optrede van die jong vrou inspirerend vind en deur dit bemoedig word. Baie luisteraars reageer daarom op die programme wat in die gebied uitgesaai word.”

Dit was ds. Amos se antwoord op ons vraag hoekom hy dink so baie nuwe luisteraarsklubs gestig is. Die bostaande paragraaf verwys na ‘n voorval verlede jaar in September waar ‘n jong meisie in die omgewing vervolg is omdat, en direk nadat, sy Christus as haar Verlosser aangeneem het.

‘n Skokkende video wat verlede jaar gesirkuleer is, wys hoe ‘n jong vrou gespot en gemartel word vir haar besluit om die Christelike geloof aan te neem. Die video wys hoe skares mense saamdrom buite ‘n gebou wat soos iemand se huis lyk. Die mense druk vorentoe, slinger beledigings na die jong vrou se kant toe en gooi in ‘n aggressiewe gebaar water op haar gesig. Die rede? Sy het voorheen die Moslem geloof aangehang en het pas haar lewe aan Christus toevertrou.

Maar die donker wolk het ook die spreekwoordelike silwer randjie gehad: Sedert die voorval plaasgevind het, het 20 nuwe luisteraarsklubs ontstaan. Die klubs bestaan uit ongeveer 15 tot 35 lede. Die jong vrou se moed en krag het ander geïnspireer om op te staan, hul vorige geloof agter te laat en Christus as hul Here en Verlosser te aanvaar.

Die Matamanda-luisteraarklub is een van die klubs. Een van die lede van hierdie klub was ‘n Moslem Sheik en het Christus as sy Here en Verlosser aangeneem in reaksie op die voorval.

Die video het destyds sterk emosies van ontsteltenis in die harte van FEBA-werkers aangewakker. Maar dit het ons ook weereens herinner waarom ons die werk doen wat ons doen– naamlik, om ongelowiges na Jesus toe te lei. Dit het ook opnuut vir ons die rede openbaar waarom daar so ‘n dringende behoefte is om die evangelie aan die mees onbereikte mensegroepe in Afrika en in die res van die wêreld uit te saai deur middel van ons radio- en aanlyn-bediening. Jesus het nooit gewelddadige gedrag goedgekeur nie. Hy was die een wat gesê het: “Wie onder julle sonder sonde is, laat hom eerste ‘n klip optel en haar gooi.” – Johannes 8:7

Die voorval waarna hierbo verwys word, het soveel mense in die betrokke dorp geïnspireer om moedig uit te stap en in die jong vrou se spreekwoordelike voetspore te volg. FEBA Malawi het in die nadraai van die ongelukkige voorval ook ‘n deurslaggewende rol gespeel deur in kontak te kom met die owerhede oor die voorval. Dit het ‘n positiewe uitslag tot gevolg gehad.

FEBA SA ondersteun agt radiostasies in Afrika met die hulp van ondersteuners: In Mosambiek is daar Radio FOT, Hope Radio, Radio Nuru, Radio Chiuanjota, en Zambezia FM. In Malawi saai ons uit deur middel van Litala FM; in Tsjad is daar Radio Shahada, en in Mali is die naam van ons radiostasie, KanuYah FM.

Al hierdie radiostasies lewer ‘n enorme oes van gelowiges op. Ds Amos het hierdie maand die Matamanda luisteraarsklub in Mangochi besoek. By die byeenkoms het die groep hul vreugde uitgespreek en gesê: “Slegs as die Way of Life-program ophou, sal ons bekommerd wees.” Baie nuwe dorpenaars het Christus aangeneem en op daardie dag by die klub aangesluit, veral vroue. Vroue het ‘n kragtige invloed op hul gesinne, hulle is sterk pilare van gebed en handhaaf harmonie en vrede binne die huis. Hoe wonderlik is dit dat hulle nou met die Gees vervul is, en hulle kan nou die reis saam met die Here begin. God gebruik enige situasie om mense na Hom toe aan te trek.

 

 

 

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4