FEBA Japan en die “God-probleem”

“Ek is nog nie ’n Christen nie,” skryf dr Ko, ’n FEBA Japan-luisteraar. “Toe ek met my Christen-vrou getroud is, was dit die eerste keer dat ek met die Christendom in aanraking gekom het. Ek het een keer saam met my vrou kerk toe gegaan. My vrae was egter oor reëls rondom leefstyl: ‘Is daar enigiets wat Christene nie mag eet nie? Mag Christene alkohol drink? Word Christene toegelaat om op Sondae uit te gaan?’ Dis die soort goed waaroor ek gewonder het.

Christendom en sektes

In Japan is daar baie mense soos dr Ko, wat min van Christendom weet. Dis nie ’n verrassing nie, aangesien slegs 0.8% van die bevolking hulself Christene noem. Die gebrek aan kennis kan egter tot sosiale vervolging lei. Daar is ’n tendens om Christendom te verwar met sektes soos Aum Shinrikyo, wie se lede in 1995 sarin-gas op Tokio moltreine vrygelaat het, waartydens 14 mense hul lewens verloor het. Of die Unification Church, wie se fondsinsameling-praktyke ’n woedende jong man aangespoor het om Japan se voormalige eerste minister, Shinzo Abe, te vermoor. As gevolg van insidente soos dié is Japannese versigtig vir godsdiens oor die algemeen, en Christenskap spesifiek. Christene – skoolkinders inkluis – word gereeld met vyandigheid behandel en selfs uit hul vriendekringe verstoot. Dit maak Christenskap onaantreklik vir meeste mense.

Bediening aan ’n onversetlike volk

FEBA Japan saai reeds vir meer as 50 jaar uit. Hul gewildste program, Keiko’s Mailbag, word al sedert 1979 deur Keiko Yoshizaki aangebied! As gevolg van Japan se wette oor godsdiensgelykheid, mag Christelike programme in die land vervaardig, maar nie uitgesaai word nie. Gevolglik vervaardig FEBA Japan sowat 20 programme en stuur hulle na Jeju-eiland, vanwaar hulle vir 75 minute per dag terug na Japan uitgesaai word. Volgens Takanori Nagakura, FEBA Japan se assistent direkteur, ontvang hulle sowat 300 e-posse of handgeskrewe briewe per maand. Hy reken hulle het tussen 300,000 en 500,000 luisteraars.
Vir sendelinge is Japan die definisie van ’n “tough crowd”…‘n onversetlike gehoor. Buiten die bogenoemde versigtigheid, bied die kultuur sy eie uitdagings: mense is huiwerig om uit te staan, veral as daar ’n kans is om in die verleentheid gestel te word, daarom kies hulle om nie kerk by te woon nie, of dit nou as Christene of nuuskierige nie-gelowiges is. FEBA Japan se werk is van kernbelang vir hierdie mense. Die radio en internet bied ’n anonieme manier om oor die Goeie Nuus te leer.
“Ons probeer uitwerk hoe om voort te gaan om die FEBA-gees van, om die Here Jesus te soek, met mense te deel wat dit moeilik vind om kerk by te woon,” sê Assistent-direkteur Nagakura. Om hierdie rede hoop FEBA Japan om opwindende nuwe programme in April te begin uitsaai. Een program sal prominente teoloë nooi om luisteraarsvrae te beantwoord; ’n tweede program sal artikels voorlees wat geskryf is deur Japannese Christene wat in die buiteland woon; ’n derde een sal preke deel van Japannese predikers van 150 jaar gelede! Die span ondersoek ook verskeie metodes van internet-evangelisasie.

Steeds op soek na God

Toe Dr Ko se vrou siek word van kanker, het hy in so ’n diep depressie verval dat hy tyd moes afneem by die werk. Toe hy uitvind dat haar herstel omtrent ’n jaar sal neem, het hy besluit om die Bybel in daardie tyd te lees.
“Ek het die Nuwe Testament begin lees, maar kon nie die kern van die storie uitpluis nie. Daar was baie teenstrydighede en goed wat ek nie kon verstaan nie. My vrou het aanbeveel dat ek inskryf vir die FEBA Bybel-korrespondensiekursus. Ek hoop dat ek deur hierdie kursus ‘n Christen kan word deur my jarelange ‘God-probleem’ op te los.”
Mag FEBA Japan vir dr Ko, en baie ander Japannese, help om die antwoorde wat hulle soek, te vind.

Besoek gerus www.febaradio.co.za vir meer inligting.

Totdat almal gehoor het,
Dr Jurie Vermeulen

Tags :
Share This :

One Response

  1. Baie dankie….sulke besondere verhale inspireer om nog meer te bid vir FEBA. Bless you….Japan kan en moet gewen word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4