FEBA Kazakstan: Nederige Beplanning Lei tot Groot Resultate

Argen, 21, is ’n universiteitstudent van Almaty en die jongste van drie kinders wie se ouers geskei is. “My ma het haar bes gedoen om ons groot te maak terwyl my pa heeltemal uit die prentjie was,” skryf Argen. “Ons het nie altyd geld gehad vir goed soos verjaardaggeskenke of vakansies, soos ander kinders by ons skool nie. Ek probeer nie hier kla nie, aangesien daardie uitdagende tye ons baie geleer het… In jul uitsendings praat julle daarvan om aan diegene wat in nood verkeer, te gee, en ek identifiseer baie hiermee. Ek voel God seën my en nou is ek mal daaroor om verjaardaggeskenke aan minder bevoorregte kinders te gee.”

FEBA Kazakstan se pad was tot nou toe nie maklik nie. Buiten die uitdaging van evangelisasie in ’n  hoofsaaklik Moslemland, het hulle ook te kampe met ’n dralende anti-godsdienstige sentiment onder ouer mense… ’n oorblyfsel van Kazakstan se jare as deel van die Sowjet-Unie. Amptelik erken die Kazak-regering godsdiensvryheid, maar tog stipuleer die 2011 Godsdienswet onder meer die volgende: godsdienstige gemeenskappe moet registreer om byeen te kom vir aanbidding; aanbiddingslokale mag slegs opgerig word met toestemming van die plaaslike regering; die regering mag toesig hou oor kinders se godsdiensopvoeding en gebed in die werksplek is verbode. Tog hou God aan om Sy wonderwerke te midde van dié moeilike omstandighede te bewerk. 

Getroue dienaars

Omdat die regering aanhoudend weier om vir FEBA ’n FM-uitsaailisensie toe te staan, het God ’n ander deur oopgemaak. Victor Akhterov, FEBA Eurasië se streeksdirekteur, sê: “In Kazakstan kon ons geen FM-lisensies kry nie, toe belê ons hewig in sosiale media…en so is die nuwe beweging onder die jong Kazak-mense gebore. Dis só wonderlik om te sien.”

Dit is voorwaar so! FEBA Kazakstan se span bestaan uit agt voltydse personeellede en vyftien vrywilligers wat inhoud vervaardig vir TikTok, Instagram, YouTube en Facebook. Die afgelope jaar het hul video’s sowat 4.8 miljoen kyke gekry. Die span se strategie behels die gebruik van getuienisse van gelowiges wat uit ’n Moslem-agtergrond kom. Hul gewildste video, Ek is in ’n Christenfamilie gebore, het tans 1.1 miljoen kyke op TikTok. In die video deel een van FEBA Kazakstan se spanlede hoe sy tot geloof in Christus gekom het.

“Prys God, ons het baie terugvoer op hierdie video gekry,” sê ’n FEBA Kazakstan spanlid. “Mense het belanggestel in die Bybel, vrae gevra oor ons geloof, en sommige van hulle het Christus as hul Verlosser aanvaar. Party van dié wat aan ons geskryf het, het ook ’n begeerte getoon om ’n kerk te besoek.”

Islam is tans ’n groeiende gier onder jongmense – dit word beskou as “cool” om vir Ramadan te vas of by ’n moskee te gaan bid – maar baie van hulle soek regtig die waarheid. FEBA Kazakstan het ons versoek om te bid dat hierdie jongmense Christus deur hul uitsendings sal vind en dat die ouer geslag ook hul harte vir God se Woord sal oopmaak. Intussen werk die span hard om hul inhoud vars en kreatief te hou, altyd met die oog op verdere groei, maar ewig-bewus daarvan dat God in beheer is.

“Ons noem dit nederige beplanning,” sê Victor Akhterov, “want dit is God wat hierdie wonderwerke doen. Ons is maar net daar en probeer getroue dienaars wees.”

Besoek gerus www.febaradio.co.za vir meer inligting.

Totdat almal gehoor het,
Dr Jurie Vermeulen

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4