“My stad het
swaar gely tydens die oorlog, dit bestaan tans skaars,” het Ivan vir FEBA
Oekraïne vertel toe hy die hulplyn geskakel het. Ivan is ’n nuwe luisteraar,
een van die miljoene mense wat vasgevang is in die fisiese en figuurlike storms
wat in Oekraïne en Rusland woed. “My vrou het pas vir my gesê sy wil skei; my
ma is oorlede terwyl sy oorsee was … en nou versorg ek my siek pa.” Ivan het nog
nooit die Bybel gelees nie. Hy was nie eers seker of God werklik bestaan nie.
Maar toe FEBA se berader saam met hom bid, het Ivan in trane uitgebars en
dankie gesê.
Storms van
verwoesting
Die naderende
winter in die Noordelike Halfrond het erge storms in Oekraïne en die suide van
Rusland tot gevolg. Die BBC berig dat geweldige wind, reën en sneeustorms meer
as 2,000 Oekraïnse dorpies en sowat twee miljoene mense in Rusland sonder krag
gelaat het. Minstens 14 mense is reeds dood. Donetsk, Zaporizhzhia en Kyiv, drie
van die streke waar FEBA Oekraïne uitsaai, is sleg getref.
Dit kom op ‘n
tydstip waar die oorlog tussen Rusland en Oekraïne al vir byna twee jaar lank
duur. Daar was die afgelope maande al hoe meer – en swaarder – aanvalle van
albei kante, wat die Oekraïne met ’n verswakte kragnetwerk laat aan die begin
van die koue maande.
FEBA Oekraïne is
nie immuun teen die storms nie. Sommige spanlede is in groter stede, terwyl
ander oorsee bly, maar almal het al verliese gely en moet ontbering ter wille
van die Goeie Nuus verduur. Van ons omroepers se geboue is al gebombardeer en
hoewel die mense genadiglik nie beseer is nie, het die spanne na die tyd aan
skok gely. Baie van FEBA Oekraïne se manlike aanbieders is opgeroep weermag
toe, waar verskeie op die front as kapelane dien. Hulle het slegs nou en dan
kontak met hul gesinne, wat ver weg is.
’n Redder wat
storms stilmaak
Dit is maklik om,
soos Ivan, hopeloos te voel.
Tog lees ons in
Psalm 107:29 (Afr20): “Hy het die storm stil gemaak en die golwe het bedaar.”
Jesus het te midde van ’n onstuimige see geslaap en wakker geword om die wind
en golwe te kalmeer toe Sy dissipels bang geword het (Lukas 8:24).
Dit is waarom
FEBA Oekraïne aanhou om God se Woord met hul luisteraars te deel, sodat hulle
hoop en bemoediging in die Goeie Nuus kan vind. Aanbieders maak kontak met
mense soos Ivan, luister na hul stories en bid saam met hulle. En God werk waar
die storms die hewigste is. Die Zaporizhzhia-streek, wat in Junie vanjaar erge
vloede beleef het nadat die Nova Kakhovka dam ineengestort het, het onlangs die
teiken van meer missiel-aanvalle geword. Die kernkragstasie is tans onder
Russiese beheer. Tog het God vir FEBA Oekraïne deure oopgemaak om ’n
radiostasie hier te vestig te midde van die oorlog! Dit het intussen een van
die streke geword wat die meeste terugvoer gee. Die Ivano-Frankivsk stasie, wat
’n paar maande gelede geopen het, ontvang ook meer terugvoer van hul
luisteraars, wat duisende binnelandse vlugtelinge insluit.
Selfs soldate
soek hulp by FEBA Oekraïne se beradingslyn. Danylo, ‘n jong soldaat, het FEBA
geskakel omdat hy selfdoodgedagtes gehad het. Hoewel hy ’n Boeddhis was, het hy
ingestem om saam met die Christen-berader te bid. Na die tyd het hy “amen” gesê
en in trane uitgebars.
Terwyl ons nou
voorberei om die geboorte van die Vredevors te vier, kom ons bid vir die mense van
Oekraïne en Rusland, wat vasgevang is in hierdie geweldige storms en desperaat
op soek is na ’n Lig om hulle te lei.
Besoek gerus www.febaradio.co.za vir meer inligting.
Totdat almal gehoor het,
Dr Jurie Vermeulen