FEBA Oekraïne Om Vrede in die Storm te Vind

“My stad het swaar gely tydens die oorlog, dit bestaan tans skaars,” het Ivan vir FEBA Oekraïne vertel toe hy die hulplyn geskakel het. Ivan is ’n nuwe luisteraar, een van die miljoene mense wat vasgevang is in die fisiese en figuurlike storms wat in Oekraïne en Rusland woed. “My vrou het pas vir my gesê sy wil skei; my ma is oorlede terwyl sy oorsee was … en nou versorg ek my siek pa.” Ivan het nog nooit die Bybel gelees nie. Hy was nie eers seker of God werklik bestaan nie. Maar toe FEBA se berader saam met hom bid, het Ivan in trane uitgebars en dankie gesê.

Storms van verwoesting

Die naderende winter in die Noordelike Halfrond het erge storms in Oekraïne en die suide van Rusland tot gevolg. Die BBC berig dat geweldige wind, reën en sneeustorms meer as 2,000 Oekraïnse dorpies en sowat twee miljoene mense in Rusland sonder krag gelaat het. Minstens 14 mense is reeds dood. Donetsk, Zaporizhzhia en Kyiv, drie van die streke waar FEBA Oekraïne uitsaai, is sleg getref.

Dit kom op ‘n tydstip waar die oorlog tussen Rusland en Oekraïne al vir byna twee jaar lank duur. Daar was die afgelope maande al hoe meer – en swaarder – aanvalle van albei kante, wat die Oekraïne met ’n verswakte kragnetwerk laat aan die begin van die koue maande.

FEBA Oekraïne is nie immuun teen die storms nie. Sommige spanlede is in groter stede, terwyl ander oorsee bly, maar almal het al verliese gely en moet ontbering ter wille van die Goeie Nuus verduur. Van ons omroepers se geboue is al gebombardeer en hoewel die mense genadiglik nie beseer is nie, het die spanne na die tyd aan skok gely. Baie van FEBA Oekraïne se manlike aanbieders is opgeroep weermag toe, waar verskeie op die front as kapelane dien. Hulle het slegs nou en dan kontak met hul gesinne, wat ver weg is.

’n Redder wat storms stilmaak

Dit is maklik om, soos Ivan, hopeloos te voel.

Tog lees ons in Psalm 107:29 (Afr20): “Hy het die storm stil gemaak en die golwe het bedaar.” Jesus het te midde van ’n onstuimige see geslaap en wakker geword om die wind en golwe te kalmeer toe Sy dissipels bang geword het (Lukas 8:24).

Dit is waarom FEBA Oekraïne aanhou om God se Woord met hul luisteraars te deel, sodat hulle hoop en bemoediging in die Goeie Nuus kan vind. Aanbieders maak kontak met mense soos Ivan, luister na hul stories en bid saam met hulle. En God werk waar die storms die hewigste is. Die Zaporizhzhia-streek, wat in Junie vanjaar erge vloede beleef het nadat die Nova Kakhovka dam ineengestort het, het onlangs die teiken van meer missiel-aanvalle geword. Die kernkragstasie is tans onder Russiese beheer. Tog het God vir FEBA Oekraïne deure oopgemaak om ’n radiostasie hier te vestig te midde van die oorlog! Dit het intussen een van die streke geword wat die meeste terugvoer gee. Die Ivano-Frankivsk stasie, wat ’n paar maande gelede geopen het, ontvang ook meer terugvoer van hul luisteraars, wat duisende binnelandse vlugtelinge insluit.

Selfs soldate soek hulp by FEBA Oekraïne se beradingslyn. Danylo, ‘n jong soldaat, het FEBA geskakel omdat hy selfdoodgedagtes gehad het. Hoewel hy ’n Boeddhis was, het hy ingestem om saam met die Christen-berader te bid. Na die tyd het hy “amen” gesê en in trane uitgebars.

Terwyl ons nou voorberei om die geboorte van die Vredevors te vier, kom ons bid vir die mense van Oekraïne en Rusland, wat vasgevang is in hierdie geweldige storms en desperaat op soek is na ’n Lig om hulle te lei.

Besoek gerus www.febaradio.co.za vir meer inligting.

Totdat almal gehoor het,
Dr Jurie Vermeulen

Tags :
Share This :

2 Responses

  1. Ek bid saam dat die Here n wonder sal laat gebeur om die oorlog te laat eindig!! Glo Hy sal almal wat aan Hom behoort , veilig bewaar!!
    Baie sterkte,ek bid elke dag vir al die gelowiges!!!
    Liefde in Christus

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4