Hoe God ‘n afgesonderde nomadiese gesin op die steppe van Mongolië bereik het

Op die reusagtige, amper-vergete steppe van Mongolië vind mens een van die wêreld se laaste nomadiese kulture. Dié nomadiese herders maak sowat 30% van Mongolië se bevolking uit en is grootliks bekend as skaapwagters, sowel as vir hul vaardigheid met perde. Sou jy so ‘n plek besoek, sou jy geen kerke en byna geen tegnologie vind nie. Die godsdiens wat die mees algemeen beoefen word, is Boeddhisme. Op die oog af mag dit onmoontlik lyk om God in so ‘n plek te vind; meeste van die plaaslike inwoners het nog nooit eers die naam van Jesus Christus gehoor nie. Nietemin, God vind die een wat Hy vir Homself wil hê, maak nie saak wat in die pad staan nie.

Op ‘n dag het Jesus ‘n skaapwagter genaamd Jagaa gevind. Hy het een van die enigste Christene in hul gemeenskap op Jagaa se pad geplaas, sodat hulle met Jagaa en sy vrou die Goeie Nuus kon deel, en sodoende is hulle gelei om te glo. ‘n Groot uitdaging het hulle egter in die gesig gestaar: hoe kon hulle in hul geloof groei sonder ‘n plaaslike kerk, met beperkte hulpbronne en lang afstande na enige stedelike gebiede? Die uitdaging om te groei het onmoontlik gelyk. Met behulp van ‘n netwerk van 14 stasies regoor Mongolië bring FEBC die evangelie aan stedelike en landelike gebiede, en kan Jagaa en sy gesin die woord van God op ‘n daaglikse basis hoor en geestelik groei. Jagaa se vrou sê die volgende:

“Ons nomadiese leefstyl bied ‘n groot uitdaging as dit kom by deel wees van ‘n kerkfamilie. As gevolg van die groot afstand tussen ons en enige stedelike gebied, kon ons nie by ‘n kerk aansluit en op ‘n gereelde basis dienste bywoon nie, maar radio het ons redding geword. Dit voed ons geloof met goeie Bybelse lering en lig ons gemoed deur ons te lei in aanbidding. Ons is in daardie opsig uniek. Ons hele familie maak staat op, en put voordeel uit, hierdie radio. My man neem gedurig die radio saam wanneer hy gaan skape oppas, en dit het sy enigste vertroueling op die weivelde geword.”

Die radio, wat as ouderwets beskou word in Eerste Wêreld-lande, is ‘n reddingslyn vir diegene in landelike gebiede. Die radio het ‘n onbeskryflike impak op die lewens van luisteraars wat gretig is om die woord van God te hoor en in hul geloof te groei. Hierdie gelowiges in afgesonderde gebiede kan voel asof hulle deel is van ‘n gemeenskap en kontak het met ander broers en susters in Christus. “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” (Romeine 10:17)

Jagaa self herken die radio as die bron waardeur sy siel die voeding kry wat hy benodig vir daaglikse lewe. Hy sê, “Die radio voed inderdaad my siel en hou my geselskap. My werk as skaapwagter kan baie eensaam wees.” Hy beskryf die impak wat die leringe op hom het as volg, “Die woord van God inspireer en troos my. My mede-skaapwagters noem my nou “Jesus” Jagaa, waarop ek baie trots is. Wat ‘n eer om hierdie titel te dra! Ek voel bevoorreg en verantwoordelik om ‘n goeie getuie vir die Here se naam te wees. Ek is ewig dankbaar dat Jesus my gevind het. Amen!”

Dis te danke aan u vrygewigheid, beide met geld en gebed, dat ons getuienisse soos Jagaa s’n met u kan deel.

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4