Uitsonderlike bedieningsgroei tydens Covid-19 Pandemie

Die COVID-19 pandemie bied ongekende uitdagings aan ons almal. Almal staar die beduidende impak in die gesig wat die pandemie bring, maar God bly getrou in hierdie moeilike tyd. FEBA en FEBC se bediening het voortgegaan om baie mense te bereik, en God se getrouheid was steeds sigbaar. Hy het nie net toegelaat dat die werk kon voortgaan nie, maar het ook toegelaat dat ons werk baie vrugte afwerp en floreer.

Waar ons aan die einde van 2021 staan, kan ons getuig dat FEBA ‘n uiters suksesvolle jaar beleef het en verskeie mylpale behaal het. God bly altyd getrou om goeie rentmeesterskap en wyse leierskap te beloon. Daar was egter iets aansienlik anders wat in 2020 en 2021 uitgestaan het, as die twee jare met vorige jare vergelyk word. Hierdie veranderinge kan net aan die hand van die Here en sy goedheid toegeskryf word.

Sonder hoop het ons nie krag nie (Klaagliedere 3:18). Sonder hoop sal mense in ‘n voortdurende toestand van rou wees (1 Tessalonisense 4:13). Hoop in Christus, Sy beloftes en Sy verlossing is die enigste positiewe krag wat ons verby die onsekerheid van die lewe en die onvermydelike swaarkry kan dryf. FEBA/FEBC se radiostasies in Afrika en regoor die wêreld het almal een gemeenskaplike boodskap – dit maak nie saak watter taal of dialek gepraat word nie. Die boodskap is dat in Christus alleen ons hoop gevind word (Psalm 62:1-2). Miljoene lewens is herstel deur tot die kennis van Christus te kom, en die gawe van verlossing te ontvang.

Psalm 62:1-2 “In Christ alone my hope is found; He is my light, my strength, my song; This cornerstone, this solid ground, firm through the fiercest drought and storm.”

Sedert die begin van 2020 het die aantal terugvoering wat ons vanaf luisteraars ontvang het met 10 maal toegeneem; vanaf 9 miljoen tot 148 miljoen per jaar. Dit is hoofsaaklik as gevolg van nuwe kommunikasielyne wat deur ons spanne gebruik word, soos WhatsApp, tolvrye hulplyne en verskeie ander sosiale media-platforms. Voorheen kon luisteraars slegs telefonies met ons spanne kommunikeer, en deur middel van SMS’e, direkte pos of e-pos terugvoering gee.

Hier is ‘n kort oorsig van wat God hierdie jaar in en deur ons plaaslike en internasionale radiostasies gedoen het:

  • • FEBA Malawi (Litala FM) was in staat om hul eie permanente gebou te bekom. Hulle was ook in staat om al die mengers, senders, rekenaars, klankdigting- en ander toerusting te koop wat nodig was om ‘n goed-toegeruste operasionele radiostasie te bestuur. n FM-lisensie is toegestaan nadat daar vir drie jaar gewag moes word sedert die aansoek ingedien is. Personeellede wat tydens die inperking afgelê moes word, is later in die jaar weer aangestel. Die nuwe radiostasie is toegerus met ‘n kragtige sender wat voorsiening maak daarvoor dat ‘n wyer gebied bereik kan word.

 

  • • Verskeie uitreike is in samewerking met plaaslike kerke deur Shahada Radio in Tsjad aangebied. Hierdie uitreike was instrumenteel om die stasie as ‘n geloofwaardige geestelike stem in die gemeenskap te vestig. Meer as 100 predikante en aanbiddingsleiers van verskillende gemeentes het hul preke uitgesaai. Sonpanele is geïnstalleer wat die radiostasie in staat stel om uit te saai tydens periodes van beurtkrag wat vir baie ure, en selfs dae, kan strek. Aan die begin van 2020 kon die radiostasie slegs 6 uur per dag uitsaai. Vandat die sonpanele geïnstalleer is, het dit die uitsaaityd tot 12 uur per dag verhoog. Tans saai hulle altesaam 18 uur per dag uit.

 

  • • In Oktober 2020 het FEBC Korea ‘n kragtige 200 000-Watt AM-radiostasie op Daebu-eiland geloods, wat die hele Noord-Korea bereik. Enigiemand met ‘n AM-radio kan die Goeie Nuus hoor. Die stasie saai gospel-programme vir 18 uur per dag uit. Hoewel luisteraars van Noord-Korea nie met die span in Suid-Korea kontak kan maak nie, weet hulle uit die gereelde terugvoer wat hulle van Noord-Koreaanse vlugtelinge ontvang, dat hul uitsendings gehoor word.

 

  • • Verligting is aan duisende gesinne verskaf deur baie van FEBC/FEBA se bedieningsvelde regdeur die pandemie. Dit is gedoen deur die verskaffing van kospakkies, mielies of saad vir herplanting. Deur hierdie nuwe inisiatiewe het baie mense Christus aangeneem en gereelde luisteraars geword.

 

  • • ‘n Sleutelvennootskap is gestig met kontakte in Niger wat FEBA ‘n geleentheid bied om die evangelie te versprei aan ‘n oorwegend Moslemnasie.

Die bogenoemde feite en statistieke skets ‘n baie indrukwekkende prentjie, maar niks raak ons dieper as die woorde van ons luisteraars nie.

Die hoogtepunt van alles wat ons hierdie jaar deur die genade van God bereik het, is om miljoene mense aan God se Woord bloot te stel. Diegene wat al verlies ervaar het, of geïsoleer en magteloos gevoel het, sal kan vereenselwig met Tungalag, ‘n luisteraar van Mongolië:

“Ek is ouer as 70 jaar. Ek woon alleen in Ulaanbaatar. My kinders woon in die buiteland. ‘n Rukkie gelede het ek u bediening se Itgel-radiotoestel bekom. Hierdie radiotoestel is my ware vriend. Weens die pandemie kon ek nie die kerk bywoon nie. Ek het al my tyd by die huis deurgebring. Maar die Itgel-radiotoestel het my gehelp om nie hartseer of alleen te voel nie. Ek het die radio aangeskakel en na aanbiddingsliedjies geluister. Ek luister meestal saans na Bybellesse. Etlike maande gelede het ek die TEE (Theological Education by Extension) begin bywoon wat deur FEBC Mongolië aangebied word. Die lesse help my om my kennis van die Bybel te verbreed.”

Dankie dat u die hulpbronne en tyd beskikbaar gestel het om gebruik te word in die bevordering van God se koninkryk. Ons bid God se seën oor jou en jou gesin toe in die nuwe jaar. Mag julle nuwe krag, hoop en ywer ontvang.

Tags :
Share This :

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Category

Recent Posts

Our Magazine

Radius Magazine – Issue #2
Radius Magazine – Version #3
Radius Magazine – Issue #4